R1,7 miljoen amper oor grens

Bruce Clifford Smith

LEPHALALE — Die 24-jarige Nicolas Fouché is Woensdag 7 Augustus deur die polisie by Stockpoort Grenspos gearresteer nadat hy onverklaarde geld oor die grens na Botswana wou neem.

Nicolas Fouché

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Polisie Klusterwoordvoerder, was Fouché in besit van onverklaarde banknote ter waarde van R1,7 miljoen wat in ʼn sak in sy huurvoertuig se kattebak gevind is.

Volgens die Stockpoort polisielede was hulle besig met hulle daaglikse take toe Fouché daar aangekom het en die grens na Botswana wou oorsteek. Die geld is ontdek met die deursoek van sy voertuig.

Hy is gearresteer, is na Lephalale Polisie geneem en het Donderdag 8 Augustus in die Landdroshof in Lephalale verskyn op ʼn klag van geldwassery. Die saak is uitgestel tot Donderdag 15 Augustus vir ʼn formele borgaansoek.

Adjudant-offisier Mokoena het Maandag bevestig dat die polisie besig is met ʼn ondersoek rakende die oorsprong van die geld en dat ʼn Zimbabwiese burger, die 52-jarige Bruce Clifford Smith, Vrydag 9 Augustus gearresteer is. Hy het Maandag 12 Augustus in die Landdroshof in Lephalale verskyn. Die sake is uitgestel na Donderdag 15 Augustus vir formele borgaansoeke van beide Fouché en Smith. Beide bly in aanhouding en die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.