Rasend oor riool

LEPHALALE — Mogol Pos ontvang steeds daagliks klagtes oor stukkende pompe, rioollekke, waterlekke, rou riool in die Mogolrivier, riool wat opstoot in mangate. Die lys is eindeloos.

Die area tussen Machauka Lodge en Pompstasie 23 is reeds verlede jaar deur ’n kontrakteur skoongemaak en nuwe pype is afgelaai. Dit het voorgekom dat daar ’n nuwe rioollyn van die lodge tot by die pompstasie gelê sou word. Na ’n dag of drie se gewerskaf was dit oor en afgehandel. Die area was op plekke afgespan en daar is steeds ’n amateuragtige bordjie, wat op ’n stok staangemaak is, wat aandui dit is ’n gevaarlike area.

Die pyplyn wat wel gelê is, is so vlak onder die grond dat mens die grond met jou hand kan wegvee. Die grond is ook nie gekompakteer nie.

Mogol Pos het sowat twee weke gelede ’n navraag aan die munisipaliteit gerig om te vra wat die naam van die projek is, wat die begroting vir die projek is en wie die kontrakteur is wat die werk gekry het. Die koerant het ook versoek dat daar by die gebied ter sprake ontmoet word.

Die munisipaliteit het nie gereageer nie.
Nadere ondersoek verlede Vrydag het verskeie onrusbarende ontdekkings opgelewer. In die gebied (langs OR Tamborylaan) is ou vervoerbande op plekke ingespan om die rioolrivier wat vrylik onder die grondoppervlak uitborrel te verberg. Slote is gegrawe en ’n hele dam is gevul met rou rioolwater. In dié slote loop die rioolwater reguit Mogolrivier toe. Die water borrel en gis net onder die oppervlak.

Stukkende pype lê oral rond. Die “nuwe pype” wat al vir maande op ’n hoop lê het intussen ’n skadunet as beskerming gekry.

Mogol Pos het dieselfde Vrydag ’n afspraak gehad met die Munisipale Bestuurder wat op kort kennisgewing gekanselleer is.

’n Tweede navraag is Maandag 9 Maart aan die Munisipaliteit gerig en teen druktyd het Mogol Pos die volgende terugvoer ontvang:

Die projek waar rioolpype opgeknap sou word, is nie voltooi nie, omdat die area versadig is met water (rioolwater? – Red).

Volgens Conscious Chiloane, kommunikasiebestuurder, moes dié projek wat by Machauka Lodge begin (sy kon nie bevestig tot waar die pype vervang moet word nie) reeds aan die einde van November 2019 voltooi wees. Die projek behels die opknapping van rioolstroompype in die dorp en ook Pompstasie 25 in Marapong.

Volgens Chiloane is gespesialiseerde masjinerie nodig om pype in ’n water-aangetaste gebied te lê. Die kontrakteur het pas ’n spesialis subkontrakteur aangestel om die uitstaande werk te voltooi. Die gewysigde omvang van werk en skedule moet nog deur alle betrokke partye afgeteken word.

Die naam van die projek en kontrakteur/s kon nie aan Mogol Pos verskaf word nie. Dit word opgevolg en meer inligting hieroor sal volgende week verskaf word.

Die begroting vir die projek is R11 miljoen.

Mogol Pos hou julle op hoogte van die projek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.