Rassie-dissipline beter, beste

LEPHALALE — ʼn Duitse onderwysers het in die grendeltyd poppies gebrei wat soos die kinders in haar klas gelyk het. Sy sê sy het dit gedoen omdat sy na hulle verlang het en hulle goed ken.

Die onderwysers van Laerskool Ellisras sê hulle het glad nie geweet wat op hulle wag nie. Die grendeltyd en gepaardgaande tuisonderrig was ook vir die Rassie-leerders en -onnies ʼn groot aanpassing. Sommige leerders het die tuisonderrig ernstig opgeneem en vir ander was dit net ʼn lekker lang vakansie.

Die leerders se oë het egter geglinster toe hulle weer kon skool toe gaan.

Dit is nie vir die leerders maklik om heeldag van agter maskers te praat en te leer nie, daarom doen hulle sommer opsitte en ander oefeninge in die klas om die bloedsomloop en suurstoftoevoer weer aan die gang te kry.

Tog sê die onderwysers die heeldag se stilsit in die klas het sy voordele. Die leerders se dissipline is baie goed en omdat hulle heeltyd in een klas bly is daar nie geleentheid om tussendeur kattekwaad aan te vang nie.

In hierdie tyd het die leerders ook geleer om op hulle eie te werk – die naaste klasmaat sit 1,5 meter weg en dis te ver om af te kyk!

Die graad 4-onderwysers, Annemarie Roos, Lizann Botha en Natali Snyman, moedig hulle leerders aan om moed te hou vir die res van die jaar – “daar is nog net vier maande van 2020 oor en dan wink graad 5 vir jou,” sê hulle.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.