Rassies in grendeltyd

LEPHALALE — Die COVID-19-pandemie en gepaardgaande grendeltydperk het die gemeenskap van Lephalale, soos die res van die land, met ’n skok getref. Laerskool Ellisras se bestuurspan laat hulle egter nie so gou afskrik nie en het aan die werk gespring om die beste moontlike gebeurlikheidsplan saam te stel.

Volgens die skoolhoof, Gustav Grobler, is alle moontlike probleme en uitdagings ondersoek en oorweeg.

“Die leerders en personeel se gesondheid is die kern van die gebeurlikheidsplan wat ook aan die nasionale en departementele riglyne voldoen,” verseker hy.
Volgens die bestuurspan is die volgende maatreëls in plek gestel:
▪ Die graad 7-groep is in kleiner groepe verdeel. Daar is dus tans vyf graad 7-klasse.
▪ Die skoolterrein (insluitende klasse, kantore, badkamers, koshuis, saal ens.) is vooraf ontsmet.
▪ Die totale personeelkorps (alle werkers, administratiewe personeel, onderwysers, leerders) en alle besoekers aan Laerskool Ellisras word ontsmet en geskandeer met aankoms.
▪ Die graad 7-ouers het ’n beskrywende gids ontvang voor die leerders teruggekeer het en daar word deurlopend met alle ouers gekommunikeer.
▪ Die leerders wissel nie van klas tot klas vir verskillende vakke nie, maar wel die onderwysers.
▪ Die klaskamers word tydens pouses ontsmet.
▪ Alle leerders se hande word na elke pouse ontsmet en die onderwysers se hande na elke klaswisseling.
▪ Die leerders se skooltasse bly tans in die klasse en word in die middae saam met die klaskamer ontsmet. Leerders ontvang dus nie tans huiswerk nie.
▪ Die voorgeskrewe sosiale afstand word te alle tye gehandhaaf en leerders is te alle tye onder toesig.
▪ Almal wat op die skoolterrein is, is verplig om ’n masker of ’n gesigskerm te dra.
▪ Volgens die gebeurlikheidsplan is daar ’n isolasie-area waarheen leerders of personeel geneem word indien hulle enige simptome van COVID-19 toon.
▪ Die leerders se emosionele welstand word in die skool se aangepaste lewensvaardigheidkurrikulum aangespreek.
▪ Die bestuurspan verseker Rassie-ouers en die res van die gemeenskap dat alle moontlike veiligheidsmaatreëls streng toegepas word om die verspreiding van COVID-19 te voorkom.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.