Rus sag Amanda 20 Augustus 1984 – 13 Februarie 2020

LEPHALALE — Die 35-jarige Amanda Pieterse née Van Biljon is Donderdag 13 Februarie in die Wilmed Hospitaal in Klerksdorp dood nadat sy verlede jaar met kanker gediagnoseer is.

Die hele familie was in Julie verlede jaar Clarens toe waar ’n fiks en gesonde Amanda saam met Jannie, haar man, en Isabeau, huur sus, aan ’n “trial run” deelgeneem het.

(Die familienaweek was deur haar ma, Anita van Biljon, bespreek voor haar dood in April 2019).
Amanda, wat nog altyd fiks en gesond was, is verlede jaar in September dokter toe nadat sy maagpyn gehad en haar maag begin swel het. Sy het in Oktober 2019 ’n operasie ondergaan waartydens haar blindederm verwyder is, maar volgens die familie was Amanda eintlik regtig nooit weer heeltemal gesond nie.

Die familie is in Desember 2019 almal na die Van Biljons se vakansiehuis in Bettysbaai in die Wes-Kaap om van Anita afskeid te neem. Met die terugrit het Amanda in Klerksdorp, waar Isabeau en haar gesin woon, agtergebly vir behandeling. Sy is egter nooit weer uit die hospitaal ontslaan nie, en is in die Wilmed Hospitaal dood.

Amanda was ’n leerder aan Laerskool Bosveld Primary en Hoërskool Ellisras. Sy het haar BCom-graad in Inligtingstegnologie sowel as haar Honneursgraad aan die Noord-Wes Universiteit behaal. Na Anita se dood het sy die bestuur van die BP-vulstasie (nou Q4) by haar ma oorgeneem.

Gert, Isabeau en die res van die gesin bedank die personeel van die Wilmed Hospitaal van harte vir die goeie versorging en wonderlike diens wat Amanda gekry het.

“Ons onthou Amanda vir haar kalm natuur en wonderlike sin vir humor. Sy was sonder pretensies en ʼn groot ‘sport’ onder haar vriende. Sy was ʼn baie goeie mamma en het soveel liefde gehad om te gee. Sy was tot op die einde verskriklik dapper en positief en meer bekommerd oor hoe dit met ons gaan as oor hoe siek sy was. Sy het op die einde baie vrede gehad oor die feit dat dit haar tyd was om Hemel toe te gaan,” sê Isabeau.

Amanda laat haar pa, Gert (68), haar man, Jannie (37) haar twee seuns, Gean (7) en Olivier (4) en haar suster Isabeau van Heerden agter.

’n Gedenkdiens vir Amanda word Vrydag 21 Februarie om 11:00 vanuit die NG Kerk Albertyn gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.