Rus sag Hantie …

LEPHALALE — Hoe sê ʼn mens totsiens aan ʼn geliefde skoolvriendin wat ʼn ware vriendin gebly het tot met haar dood op 18 Junie 2018?

Hantie en Ria

Hantie Oosthuizen, gebore Pelser, sal onthou word as die blymoedigheid self, altyd laggend en positief ten spyte van die swaard van siekte wat oor haar kop gehang het.

Jare gelede word Hantie gediagnoseer met Temporomandibulêre gewrigsindroom. Kakebeenoperasies volg. Fibromialgie pynsindroom van haar spiere en bindweefsel volg. Nekoperasie. Gordelroos en longprobleme. En later Rumatoïde Artritis. En dan die verskriklike nuus dat sy Multi-sistematiese atrofie asook Parkinsons het. Kortom, Hantie se bloedvatstelsel gaan dood en daar is nie ʼn kuur nie.

Maar ten spyte van hierdie doodsvonnis en ʼn aanvanklike groot hartseer, het daar ʼn rustigheid oor haar gekom, al het sy gesukkel om elke dag te verstaan.

“ … maar tot aan die einde van my pad moet U assebief my hand styf vashou,” was haar gebed.

Hantie, die welriekende blom in die tuin van die lewe. Ons gaan haar mis.

— Ria Wells

Die begrafnis van Hantie Oosthuizen vind Vrydag om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Ebenhaeser plaas.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.