Sáám teen plaasmoorde

LEPHALALE — Inwoners van Lephalale en omgewing en veral landelike gebiede het Maandag 30 Oktober aan ʼn landswye Swart Maandag-veldtog deelgeneem. Dié veldtog is ter bewusmaking daarvan dat plaasmoorde en –aanvalle toeneem en as prioriteitsmisdade gereken moet word.
Die voertuie het Maandag teen 15:30 by die Marken T-aansluiting in OR Tambo-rylaan begin bymekaarkom. Almal was in swart geklee en swart vlae het by verskeie voertuie uitgehang. Sommige voertuie was geverf met slagspreuke soos “stop plaasmoorde” en “genoeg is genoeg”.
Die personeel van Tamboti Toyota en Matopi Ford, almal in swart geklee, het langs die pad gestaan ter ondersteuning van die Swart Maandag-inisiatief en ter nagedagtenis aan wyle dr Werner Emslie wat op 20 September op sy plaas Waterval vermoor is. Werner was Don Emslie van die Emsliegroep se broer.
Verkeersbeamptes was oral sigbaar om die honderde voertuie te reguleer en die optog te lei na The Junction, waar almal uiteindelik bymekaargekom het om saam te bid.
Voertuie het teen ʼn slakkepas deur die dorp beweeg en teen 18:00 was daar nog tientalle voertuie op pad na The Junction waar pastoor Attie van Wyk van die PPK Lighuisgemeente en ds Arno Nieuhoff van die APK ʼn boodskap aan die meer as 500 mense gelewer het. Daar is saamgebid vir gesinne wat deur plaasmoorde en –aanvalle geraak is.
Mogol Pos het met verskeie mense gepraat wat deel was van die inisiatief en hulle was dit almal eens dat dit ʼn wonderlike voorbeeld was daarvan dat mense kan saamstaan as hulle moet.
Die hele inisiatief het vreedsaam verloop en geen onwettige insidente is by die SAPD Lephalale aangemeld nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.