SAVF deurgangshuis benodig hulp

LEPHALALE — Amanda van Rooyen en Suretha Barnard, administratiewe beamptes by die SAVF Lephalale, sê die gemeenskap moet verstaan dat die SAVF Maroela-Oord net ʼn deel van die SAVF in Lephalale is.
Die deurgangshuis, ʼn plek van veiligheid waar vroue en kinders gehuisves word, is ook ʼn groot deel van die SAVF en die daaglikse onderhoud en hantering daarvan is deel van Amanda en Suretha se werk.
Die idee van ʼn deurgangshuis is dat vroue en kinders daar bly en versorg word totdat hulle buite gevaar is en weer onafhanklik kan funksioneer.
Volgens Amanda is daar ʼn baie groot behoefte aan vrywilligers. “Daar is eenvoudig geen fondse beskikbaar om enigiets wat ons doen uit te brei of te verbeter nie. Die deurgangshuis is onder andere een van die dienste wat aan die gemeenskap gelewer word, maar ons het die gemeenskap nou nodig om ons te help deur vrywillige dienste aan ons te lewer,” sê Amanda.
Volgens beide Suretha en Amanda is die deurgangshuis ʼn groot kopseer. Daar is tans net een maatskaplike werker in hulle diens en sy kan nie by alles uitkom nie. Hulle sê dat alhoewel hulle weerlose vroue en kinders huisves, is dit ongelukkig so dat baie van hulle die kamer wat vir hulle ʼn veilige hawe was, verwoes wanneer hulle weggaan.
“Die vensters word stukkend geslaan, die handvatsels word afgebreek en sommige van hulle vat selfs die sleutel saam as hulle deur die nag wegloop. Ons het iemand nodig om ons te help om die vensters te herstel, die slotte vas te draai. Ons het ʼn nutsman nodig, maar ons het nie fondse om die persoon te betaal nie,” sê Amanda. Hulle herstel tot dusver die skade op eie onkoste.
“ʼn Loodgieter se tarief is R400 net om uit te kom na die perseel, dan is die probleem nog nie eers opgelos nie,” sê Amanda. Daar is dus ʼn dringende behoefte aan ʼn vrywillige loodgieter en elektrisiën.
Ander items wat hulle dringend vir die deurgangshuis benodig is ʼn yskas, stoof, en wasmasjien. Amanda beklemtoon dat hulle nie vra vir nuwe items nie. “Dit kan tweedehands wees solank dit darem nog in ʼn werkende toestand is. Ons vra nie nuwe goed nie, net hulp,” sê sy.
Nog behoeftes is kombuisware soos messe en vurke, kastrolle, glase, borde – dit hoef nie pasmaats te wees nie, solank dit net bruikbaar is; beddegoed, lakens, kussings, duvets en oortreksels – alles vir driekwartbeddens.
“Ons het ook iemand nodig wat bemarking kan doen sodat die gemeenskap meer bewus kan wees van wat ons doen en van die behoeftes wat ons het en dienste wat ons lewer.
Suretha en Amanda bedank alle individue en organisasies wat hulle wél help.
“Baie dankie aan die drie vulstasies in Lephalale wat ons altyd baie goedgesind is en aan almal wat veral klere by ons aflaai. Sommige van die klere is nog splinternuut.
Hulle groot droom is juis ʼn tweedehandse klerewinkel en ʼn handige man wat een van die motorhuise in ʼn winkel kan omskep.
(As jy aan die einde van die maand jou kruideniersware gaan koop, koop asseblief ʼn ekstra tandeborsel, buisie tandepaste, toiletpapier, seep, sjampoo, skottelgoedseep en waslap en laai dit by Suretha of Amanda af. Dit kan dalk iemand se lewe verander – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.