Scott van Zyl — is daar ’n ander waarheid?

LEPHALALE — Wyle Scott van Zyl, bekende beroepsjagter en eienaar van SS Pro Safaris, het in April vanjaar in Zimbabwe by die Chikwaraka-kamp vermis geraak. Die soektog na hom is op 16 April vanjaar amptelik afgelas nadat menslike oorskot wat in krokodille in die Limpoporivier gevind is, positief met Scott se DNS verbind kon word.
Gerugte is versprei dat Scott sy selfoon en jaggeweer in sy voertuig gelos het voor hy veld toe is, maar almal wat Scott goed geken het, het gesê dit is nie die waarheid nie.
ʼn Paar maande gelede het ʼn Zimbabwiese visserman egter ʼn broek ontdek in ʼn poel – ongeveer 800 meter van waar Scott se sak en GPS in April gekry is. Die water in die Limpoporivier het gesak en die poel se water was dus vlakker. Die broek is oorhandig die familie het die broek herken as Scott sʼn.
Volgens Mof Venter, Scott se boesemvriend, het dit intussen duidelik geword dat daar ʼn ander waarheid is as die storie dat Scott in die Limpoporivier beland en krokodille hom doodgemaak het. “As mens na die broek kyk is dit baie duidelik dat sy liggaam êrens heen gesleep is. Die agterkant van die broek is déúrgeskuur. Daai broek was definitief ook nie naby enige krokodil nie. Daar is ook ʼn gat in die broek wat baie lyk na ‘n gat wat deur ʼn koeël veroorsaak is. Scott is moontlik geskiet voordat hy in die rivier beland het,” sê Mof.
Mof het bevestig dat die broek aan Forensies oorhandig is en dat daar tans toetse gedoen word om te bepaal of die gat in die broek wel deur ʼn koeël veroorsaak is en indien wel, watter kaliber wapen gebruik is. Die tipe bloed op die broek asook die konsentrasie van die bloed sal ook deur forensiese toetse bepaal word.
Nog ʼn wending in verband met Scott se dood wat ook van die begin af nie sin gemaak het nie is dat albei mans wat saam met Scott gejag het dood is aan onnatuurlike oorsake. Beide is dood etlike weke nadat die soektog na Scott afgelas is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.