Seniors behoorlik bederf

LEPHALALE — Die senior burger-ete by die Bosveldfees is elke jaar ʼn groot hoogtepunt op die Feesprogram.

Vanjaar se spesiale geselligheid wat Vrydagmiddag vanaf 12:00 in die Mogolklub se funksiesaal aangebied is, was geen uitsondering nie.

Seniors het van vroeg af stelling by die feestelik versierde tafels ingeneem en solank begin nuus uitruil. Mej Bosveld 2018, Bianca Rautenbach en haar twee prinsesse, Savhana Grimbeeck en Charné Oosthuizen asook Mej Bosveldnooi, Vicky Lee Armstrong en Mej Debutante, Anebe (Bibi) Oelofse het die gaste bedien en saam met hulle gekuier.

Die groot verrassing van die geleentheid was toe pastoor Jan Bezuidenhout van die PPK Lighuis die mikrofoon nader trek en die gaste met sy pragtige sang bekoor.

’n Totaal van R55 000 is deur die Bosveldnooiens ingesamel vir die SAVF Maroela-Oord en Mej Debutante, Anebe Oelofse en Elize Pieterse, mede-organiseerder van die Mej Bosveldkompetisie het die tjek aan Meisie Bezuidenhout van die SAVF Maroela-Oord oorhandig. Marie Seegers, Feesvoorsitter, het haar innige dank teenoor dié pragtige dames uitgespreek. Dié bedrag oortref alle vorige bedrae wat ingesamel is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.