Skakel met GPF noodsaaklik

LEPHALALE — Luitenant-kolonel Martin van Staden van Limpopo Landelike Veiligheid het Donderdag 16 November die Lephalale Gemeenskapsveiligheidsforum (LGVF) se vergadering bygewoon en meer lig gewerp op die betekenis van ʼn Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in ʼn dorp.
Hy het gesê dat hy onlangs ʼn strategievergadering met die nasionale kantoor gehad het oor die struktuur van veiligheidsforums.
“Daar is ʼn struktuur wat nie noodwendig die plaaswag moet beheer nie, maar dit moet onder sekere regulasies en wette plaasvind. Die wetgewing is spesifiek vir plaaslike sekuriteitsisteme en om te verduidelik hoe die grondwet, polisiewet, strafproseswet en die selfverdedigingswet werk en om toe te lig waar stop regte as mense deelneem aan patrollies en plaaswaginteraksies. Die magte van siviele persone word baie beperk.
“Enige verhoudingsnetwerk wat bestaan om sekuriteit en veiligheid in ʼn omgewing te bewerkstellig moet beheer word deur die polisie se invloed. Jy kan nie wet en orde of veiligheid en sekuriteit probeer handhaaf sonder die polisie se medewete of betrokkenheid nie. Iewers in die struktuur moet die polisie bykom.
“Die plaaswaggroep is dus ʼn gemeenskapstruktuur wat betrokke raak in polisiëring. Die fokus moet steeds bly om misdaad te probeer bekamp in die omgewing waar jy is – hetsy in die dorp of op ʼn plaas,” het Van Staden verduidelik.
Hy het gesê die voorgestelde en aanvaarde struktuur behels dat die polisie heel bo lê want die grondwet bepaal dat die polisie verantwoordelik is vir veiligheid en sekuriteit in die land.
“Die SAPD het mandaat, maar ongelukkig is die SAPD nie alleen daartoe in staat om veiligheid te verseker nie, daarom het hulle verhoudingsnetwerke (partnerships) met die gemeenskap. Dit is waar die GPF inkom. Daar is GPF-strukture oral in Limpopo. Daar is 102 polisiestasies in Limpopo en ek rapporteer ook nasionaal dat daar 102 formele GPF-strukture is. Sodra daar ʼn nuwe polisiestasie geopen word is dit een van die eerste prioriteite om ʼn GPF-struktuur daar te stel.
Die enigste struktuur wat bo die GPF is, is die polisie self. Al die buurtwagte en die ander strukture (skole, kerke, ambulanse) vorm deel van die GPF-struktuur. As daar byvoorbeeld ʼn plaaswagsisteem gevorm word kan daar ʼn komitee gekies word. Hulle kan ʼn voorsitter kies wat die plaaswag by die GPF gaan verteenwoordig. Julle het niemand se toestemming nodig om ʼn plaaswag te skep nie, met dien verstande dat die GPF nie die ‘command and control centre’ van die plaaswag is nie. Daar is nie opdragte van die GPF nodig om die plaaswag te bestuur nie, die plaaswaglede moet net weet daar is wette en regulasies wat nagekom moet word.
Die GPF is nie die ‘baas’ van almal nie, almal is in ʼn vennootskap met mekaar, maar een verteenwoordiger van elke veiligheidstruktuur moet die maandelikse GPF-vergadering bywoon.
“Hoe dit in praktyk moet werk is dat die LGVF moet skakel met die GPF en so ook die buurtwag en ander veiligheidsforums soos Afriforum,” het hy verder verduidelik.
Van Staden het ook gesê as daar ʼn veiligheid- of sekuriteitsgroep gestig word, moet die lede na die polisie toe gaan en sê dit is wat hulle wil doen en hulle wil deel vorm van die GPF.
“As jy jou struktuur nie met die polisie deel nie gaan hulle nie van jou weet nie en gaan jy nie uitgenooi word na belangrike vergaderings toe nie,” het hy afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.