Skemer herwin kreatief

voor v.l.n.r.: Ronel Jordt, Thabo Sibeko (Earthlife Africa), Elana Greyling; (agter vlnr): Elise McCleod, Lenie Brink, Lizette Pretorius, Marietjie Thomas, Elmare Seymour, Mary-Ann Leask, Vera du Preez, Elize du Plessis, Hanneline Joubert en Trudie Bronkhorst (voorsitter)

LEPHALALE — Thabo Sibeko van Earthlife Africa (Johannesburg) het verlede week met die dames van die VLU Skemertak gesels oor kreatiewe herwinning.

Thabo is ’n kunstenaar in eie reg wat skilderye, beeldhouwerk en juwele uit herwinbare materiaal maak. Hy sê as ’n omgewingsaktivis is dit vir hom ʼn manier om sy liefde vir die omgewing met sy kuns te kombineer en so belangrike boodskappe uit te dra.

“Herwin, hergebruik en verminder verbruik. Dit is die enigste antwoord om te verhoed dat ons wêreld nie deur vullis oorgeneem word nie. “Spasie in veral stedelike gebiede word al hoe kosbaarder en mens kan dit nie aan vullishope afstaan nie – veral as ’n mens in ag neem dat amper 90% van munisipale vullishope herwin of herbruik kon word. As mense herwin, word vullishope nie net kleiner nie, maar minder kosbare hulpbronne en energie is nodig om nuwe produkte te fabriseer.

“Organiese vullis wat in jou komposhoop kon gaan, bou ook metaangas op in vullishope, wat bydra tot kweekhuisgasse en aardverwarming,” het hy gesê.

Die lede sê hulle is ook opgewonde daaroor om iets uit niks te maak, daarom is hulle reeds vir meer as ʼn jaar besig om soveel as moontlik te herwin. Hulle werk ook saam met vrouegroepe in die landelike gebiede om Lephalale, waar dit noodsaaklik is om soveel moontlik met so min moontlik te doen.

Die volgende vergadering, met die tema “kuns en kultuur” word Dinsdag 9 Julie gehou.

Skakel Lenie Brink by 082 770 6917 vir meer inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.