Skokbotsing — “dit gaan beter met Karen”

BULGERIVIER — Karen van Schalkwyk en Wilna du Plessis (47), albei lede van die SAPD in Bulgerivier en boesemvriendinne, was Donderdagoggend 12 April omstreeks 08:00 in ʼn kop-aan-kop-botsing betrokke. Die botsing het op die N1-Suid enkele kilometers buite Polokwane gebeur. Volgens inligting was Karen en Wilna op pad na ʼn werkswinkel naby Seshego.

Wilna en Karen het met ʼn polisievoertuig gery en die ander voertuig betrokke was ʼn Volkswagen Polo. Twee van die vier insittendes van die Polo, Rubben Mokonyama (46) van Mahwelereng en Mummy Mokonyama (36) van Masehlaneng is op slag dood. Die ander twee insittendes is ernstig beseer.

Karen moes uit die voertuig gesny word en het baie ernstige beserings opgedoen. Sy is per noodhelikopter na Mediclinic Polokwane vervoer en in die intensiewe sorgeenheid opgeneem. Haar toestand was kritiek. Haar milt het geskeur en sy het inwendig gebloei. Na ʼn noodoperasie waartydens haar milt verwyder is, is sy vir 72 uur onder sedasie geplaas.

Mogol Pos het Woensdagoggend met haar man, Faan, gepraat en volgens hom het die dokters besluit om die sedasie stadig te verminder en hulle is baie tevrede met haar vordering. “Dit gaan regtig baie goed met Karen,” sê hy. Hy sê volgens die breinspesialis lyk alles goed en die brein funksioneer normaal.

Wilna het veelvuldige beserings opgedoen, maar sy was teen druktyd reeds uit die hospitaal ontslaan. Sy is baie getraumatiseer en bekommerd oor haar vriendin.

Faan en Kapep (Wilna se man) bedank die gemeenskap vir die ongelooflike ondersteuning, gebede en belangstelling in Karen en Wilna se welstand.

Die oorsaak van die botsing was teen druktyd onbevestig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.