Staatmakers tree uit

Jan en Essie saam met Neels Gerber tydens die oorhandiging van hul afskeidsgeskenk

LEPHALALE — Jan en Essie Beyer se uittrede by die Mogol Gholfklub laat beslis ʼn groot leemte in die Bosveld se gholfgemeenskap.
Jan was vir etlike jare gholfbestuurder en Essie het die restaurant hanteer. Hulle afskeid is Woensdagaand 1 November op die stoep by die saal saam met kollegas en vriende gehou.
Dr Neels Gerber, algemene bestuurder van Mogolklub, het in sy toespraak gesê as dit nie vir Jan se bydrae was gedurende sy loopbaan by Mogolklub nie, was daar nie ʼn gholfbaan nie. Jan het in 1984 as majoor uit die Suid-Afrikaanse Verdedigingsmag getree en by die destydse Iscor (nou Exxaro) in die ou Ellisras aangesluit en met sy kennis en hulp is die gholfbaan gebou.
Jan en Essie het vanaf 1990 by verskeie ander gholfklubs gewerk onder andere Hans Merensky, Steelpoort en Kimiad. November 2009 keer hy en Essie terug na die Bosveld en hy word as gholfbestuurder aangestel. Hy dien in dié posisie tot 31 Oktober 2017.
Neels het Jan geloof vir die manier waarop hy die gholfklub bestuur het en veral vir sy groot bydrae tot die uitmuntende toestand van die pragtige gholfbaan tussen die talle maroela- en ander bosveldbome waarmee hy telkens veral deur besoekende spelers gekomplimenteer is. Soos dit dikwels met elke suksesvolle man gaan, is Jan deur sy ander helfte, Essie, ondersteun. Menige gholfspeler sal haar en haar smaaklike disse tydens toernooie onthou en dit mis. Selfs haar hamburgers en roosterbroodjies was telkens ʼn treffer.
Neels het Jan en Essie voorts beskryf as ʼn ouma en oupa vir baie kinders waar hulle selfs na hartelus kon koekies bak. Hy het afgesluit met ʼn aanhaling van Catherine Pulsifier: “Retirement may be an ending, a closing, but also a new beginning”. Hy het ʼn pragtige skildery aan hulle oorhandig as afskeidsgeskenk. Die skildery, ʼn afbeelding van die gholfbaan vanaf die klubhuis se kant, is deur Ria Coetzee geskilder.
ʼn Bewoë Jan het sy tyd by die klub as ʼn reis vol hoogtepunte beskryf waarin hy baie vriende gemaak het. Hy het veral diegene wat vanaf 1984 nog steeds saam met hom by die klub werksaam is bedank vir jare se wonderlike kollegiale spanwerk. Hy het sy kollegas en gholfpresidente bedank vir hulle ondersteuning en die nuwe bestuurder, Igor Duvel, tong-in-die-kies gewaarsku dat “die ouens jou nie toelaat om grootkop te kry nie”. Hy het vir Essie, wat altyd aan sy sy is, bedank vir haar onbaatsugtige hulp en bystand.
“Baie dankie en ek wens almal sterkte toe. Lank lewe die klub,” het Jan afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.