Thys nie jou maat

LEPHALALE — Mogolklub se jaarlikse prestige prysuitdelingsfunksie is Donderdag12 Maart in die funksiesaal gehou. Dit was ’n geleentheid waar presteerders gedurende 2019 in al Mogolklub se sportsubseksies vereer is met brons, silwer of goue medaljes asook toppresteerders met trofeë.

Die aand is begin met die tradisionele aansteek van die fakkel deur die vorige Sportster van Jaar, Hanlie van Zyl. Daarna het Nancy van Staden, gemeenskapsmobiliseerder van KANSA Lephalale, ’n sertifikaat aan die Mogolgholfklub oorhandig vir die opbrengs van die Mogolklub-Kansagholfdag van 2019 waar R25 000 ingesamel is vir Kansa. In totaal het die gholfklub die afgelope sewe jaar reeds R274 000 aan Kansa oorhandig.

Die volgende sportsterre het trofeë ontvang:
Sarita du Plessis: Matimba Kragstasiewisseltrofee vir die beste Administrateur van die Jaar – perdrysubseksie.

Thys Smith: Medupi Kragstasiewisseltrofee vir Beampte van die Jaar – Gemengde Gevegskunssubseksie.

Rudi van der Neut: Lephalale Munisipaliteitwisseltrofee vir die beste Sportsubseksie van die Jaar, naamlik die Perdrysubseksie waarvan hy die voorsitter is.

’n Nuwe trofee vir die subseksie wat die meeste nasionale verteenwoordigers opgelewer het word deur Thys Smith, voorsitter van die Gemengde Gevegskuns, in ontvangs geneem.
Bianca Nel: Molalatau Lodge wisseltrofee vir Junior Sportvrou van die Jaar. Bianca het uitgeblink in atletiek.

Fred Pistorius: Machauka Lodge wisseltrofee vir Junior Sportman van die Jaar vir sy prestasie in die nasionale perdrykampioenskappe (Tentpegging).

Riaan Nel en AW Besseling deel die Domitor Drukkerswisseltrofee vir Senior Sportman van die jaar. Hulle het Mogolklub nasionaal in Namibie in die Windhoekparespel verteenwoordig.

Liz Smith: Elite Micawisseltrofee vir Veteraan Sportvrou van die Jaar. Sy het ’n goue medalje tydens die 2019 Gemengde Gevegskuns-wêreldkampioenskappe behaal. Elme Young het ’n spesiale toekenning ontvang vir haar deelname aan die Wêreldmeestersatletiekkampioenskappe.

Thys Smith: Lewies en Assosiatewisseltrofee vir Veteraan Sportman van die Jaar vir ’n goue medalje behaal tydens sy deelname aan die Gemengde Gevegskuns Wêreldkampioenskappe in 2019.

Die hoogtepunt van die aand was die aankondiging van die wenner van die gesogte Ben Albertswisseltrofee vir Sportster van die Jaar vir 2019-trofee.  

Niemand anders as Thys Smith loop weg met dié gesogte trofee nie. 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.