Tien onwettige immigrante vas

LEPHALALE — Die AfriForum-buurtwag in Lephalale, in samewerking met Ferroland se teenstropery-eenheid; Exxaro-myn se sekuriteit; die SAPD en lede van die gemeenskap, het verlede week tien immigrante vasgetrek wat onwettig die land binnegesmokkel is. ’n Soektog is na die verdagtes geloods nadat lede van die gemeenskap ’n verdagte voertuig gerapporteer het.
Ferroland se teenstropery-eenheid het dadelik gereageer waarna die verdagtes gevlug het, maar met goeie samewerking tussen die verskillende veiligheidsrolspelers is die bakkie en slaapwa met die onwettige immigrante voorgekeer en is die persone wat dié onwettige immigrante die land binnegesmokkel het ook gearresteer.
’n Woordvoerder van AfriForum se Ellisras-tak sê die samewerking tussen verskillende veiligheidsrolspelers is van kardinale belang om seker te maak dat misdadigers en onwettige immigrante in dié gebied vasgetrek word. “Ons as ’n gemeenskap moet saam staan en mekaar help in die geveg teen misdaad. Ek doen daarom ’n beroep op die gemeenskap om in te skakel by veiligheidstrukture en ons te help om ’n verskil te maak.”
“Veiligheid is ’n groot prioriteit vir AfriForum se Ellisras-tak. Elke lid van die buurtwag speel ’n sleutelrol en ons moedig inwoners aan om betrokke te raak sodat ons vry, veilig en voorspoedig kan leef,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.