Toegangshekke — “bly binne die wet”

LEPHALALE — Waarom is daar teenkanting teen die oprig van veiligheidshekke op grondpaaie wat toegang beheer na plase? PT van Staden van die Beska-area het by die Landelike Veiligheidsvergadering wat verlede week by Mogolklub gehou is, vir brig Masia gesê hy kry die gevoel dat die polisie nie positief is oor die veiligheidshekke wat by grondpaaie opgesit word om vrye toegang tot plase te beheer nie.

Hekke soos dié kan moontlik misdaad op plase verminder

“Ek hoor dat die polisie teen die hekke is omdat hulle sê hulle het dan nie toegang tot die plase nie. Daar is ʼn telefoonnommer op elke hek aangebring wat geskakel kan word wanneer jy toegang wil hê,” het Van Staden verduidelik.

Hy het verder gesê misdaad styg elke keer wanneer die hek stukkend is en dit neem af wanneer die hek weer reg is.

Hy het ook gesê die hekke het minder werk vir die polisie tot gevolg. Dit het dus ʼn tweeledige doel – dit verlig die werklas van die polisie en dit beskerm die inwoners. “Enigiemand kan toegang kry deur een van die nommers op die hek te skakel, maar die kriminele sal nie die nommer skakel nie want hulle wil nie op rekord wees nie,” het hy gesê.

Kol Daniel Ramakgoakgoa, Lephalale Polisiestasiebevelvoerder, het gesê dit is ʼn goeie strategie om seker te maak onwelkome besoekers het nie toegang nie, maar dat die polisie binne die wet moet bly en hekke kan sonder goedkeuring opgerig word nie.

“Dit bly ʼn bekommernis, ons is die wetstoepassers, daarom moet ons vir julle sê as iets nie reg is nie. Daar is sowat drie hekke van dié soort in die omgewing en alhoewel dit positief is om die hekke te hê, het ons nog nie die toepaslike toestemming nie.

Van Staden het gesê hulle sal die regte stappe volg en hy wil dit baie duidelik maak dat die hekke niemand toegang weier nie, want dit is ʼn openbare pad. Enigiemand het toegang enige gegewe tyd deur die loop van die dag – die hekke is oop van 06:00 tot 18:00. “Ons sluit die hekke deur die nag, want alle probleme ontstaan as dit donker is.

“Volgens Eskom is daar nog nie weer transformators gesteel vandat die hekke opgerig is nie. Ons het die polisie se ondersteuning nodig,” het Van Staden bygevoeg.

“Die polisie sien die oprigting van die hekke as positief, maar as ons klagtes ontvang moet ons soveel te meer binne die raamwerk van die wet bly,” het kol Ramakgoakgoa gesê.

Kol Ramakgoakgoa het ook gesê dit is nie net die polisie se kommer nie maar ook dié van die Lephalale munisipaliteit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.