Toename in inbrake — gemeenskap kan help

LEPHALALE — Daar was verskeie inbrake oor Paasnaweek in veral Herman- en Vleiloeriestraat.

Volgens die Lephalale gemeen-skapspolisiërsingsforum (GPF) is daar ʼn moontlikheid dat dit dieselfde groep verdagtes kan wees wat die laaste paar weke betrokke was by inbrake in Ellisstraat waar ʼn motorfiets en elektroniese goedere gesteel en sekuriteitsbeamptes oorval is.  

Die GPF moedig alle inwoners aan om seker te maak dat alle veiligheidsmaatreëls in plek is. Maak seker jou blyplek is te alle tye gesluit en alarms geaktiveer. Hou noodnommers byderhand vir noodgevalle.

Volgens kolonel Daniel Ramakgoakgoa, Lephalale Polisie stasiebevelvoerder, is die toename in die getal inbrake oor die laaste paar weke kommerwekkend. Hy versoek die gemeenskap om ook betrokke te raak en om die polisie se oë en ore te wees.

“Mense moenie dink die polisie kan die stryd teen misdaad alleen beveg nie,” sê hy.

Hy het ook gesê die GPF is vir hulle van baie waarde en dat die polisie graag wil inskakel by hulle beplanning en dat alle strate in die dorp om die beurt gepatrolleer moet word.

Skakel Lephalale Polisie 014 762 1010 of die GPF Dienskamer by 081 701 1089. Daar is 24/7 iemand aan diens.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.