Tony pleit skuldig

LEPHALALE — Die 57-jarige Antonio Xavier (Tony) Freitas het Maandag 7 Mei in die streekshof in Lephalale skuldig gepleit op 15 aanklagte teen hom.

Antonio Xavier (Tony) Freitas

Die aanklagte sluit in: die jag van sewe renosters sonder permitte op die plaas Ringbult in die Steenbokpanarea en die besit en donering van sewe renosterhorings asook die verkoop van renostervleis sonder die nodige permitte.

Ulrich Roux, ʼn bekende strafregprokureur van Gauteng, het Freitas verteenwoordig en aangedui dat hy skuldig pleit op al 15 aanklagte.

Daar was ʼn pleitooreenkoms met die staat gemaak en nadat die staat genoegsame inligting uit die ooreenkoms kon kry is die pleitooreenkoms aanvaar.

Freitas is die volgende straf opgelê en die aanklagte is gekombineer tot ʼn eenmalige vonnis van:
10 jaar gevangenisstraf of R1 miljoen wat soos volg opgedeel is:

  • ʼn R500 000 boete en R500 000 as skenking aan die Heritage Protection Group (HPG) vir die toekomstige ondersoek van renosterverwante misdade. Die R500 000 skenking moet voor Desember 2018 aan HPG oorbetaal word.
  • Die ander R500 000 is opgedeel in R250 000 wat hy Maandag 7 Mei en R250 000 wat hy Vrydag 11 Mei aan die hof moes betaal.
  • ʼn Woordvoerder van die Eenheid vir Bedreigde Spesies wat die saak ondersoek het, het namens die Eenheid hulle tevredenheid teenoor die uitslag van die saak uitgespreek. Hy sê dit is sinvol om boetes as donasies aan te wend sodat daar fondse beskikbaar is vir die ondersoek van toekomstige sake.

Freitas, ʼn bekende besigheidsman en mede-eienaar van Bosveld Sentra in Onverwacht, is op 27 Januarie 2017 op sy plaas Ringbult gearresteer nadat die polisie inligting ontvang het dat sewe renosters doodgemaak en hulle horings verwyder is in November 2016.

Freitas is op 27 Januarie 2017 op sy plaas Ringbult gearresteer

Die polisie het agt renosterpote, sewe karkasse en twee renosterkoppe in ʼn koelkamer gevind en een ontbinde renosterkarkas, twee renostervelle, bene en mis op die plaas gekry.

Freitas het op 1 Februarie 2017 in die Landdroshof in Lephalale verskyn waarna hy borgtog van R250 000 betaal het met sekere voorwaardes. Die saak is daarna verskeie kere uitgestel.

Die polisie is besig om inligting op te volg en enigiemand met inligting oor die saak kan adjudant-offisier Jurg van Heerden skakel by 082 814 4300.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.