“Totsiens liewe vriende”

LEPHALALE — Die alombekende en beminde Johan en Annemarie Els het besluit om die Bosveld na baie jare te verruil vir Kleinmond in die Wes-Kaap. Johan is van die gerekende prokureursfirma Gys Vlok en Els.

Annemarie en Johan Els

Johan het sy gewig in 1974 by Gys Vlok Prokureurs ingegooi, ʼn firma wat reeds vanaf 1969 in Ellisras sake doen, maar tree in 1975 toe as volle vennoot in die firma. Hy sê hy het altyd een missie voor oë gehad en dit was dat hy in die Bosveld wou bly, want in die stad sou hy nie aard nie.

Toe dié egpaar hulle 44 jaar gelede in die ou Ellisras vestig was behuising bitter skaars en hulle het in ʼn asbeshuis in Fox Odendaalstraat ingetrek, hul dogter Zenta toe twee jaar oud. Hul seun Andries is in 1975 gebore. Hulle kry later die geleentheid om die ou NG-pastorie op Waterkloof net buite Ellisras te huur. Daarna koop hulle ʼn gedeelte van die plaas Ehrenbreitstein waar hulle vir 33 jaar lank woon en nog later koop hulle ʼn wildsplaas naby Afguns waar hulle vir die afgelope agt jaar bly.

Johan, bekend vir sy professionalisme, harde werk en lang ure in die praktyk, het ook gewoeker met eiendomme in die omgewing en selfs sy hand suksesvol aan bees- en wildboerdery gewaag.

Saterdae het Johan en Annemarie sosiaal op die tennisbaan verkeer en hulle onthou die gesellige en wonderlike tye saam met tennismaats Hester en wyle Pieter du Toit en Schimper en Lynn Maree. Oor soveel jare maak ʼn mens hartsvriende oor die hele spektrum van die gemeenskap. “Kosbare mense wat oor jare baie waarde tot ons lewens toegevoeg het en vir wie ons lief geraak het,” sê hulle.

Maar in elkeen se lewe is daar ʼn tyd vir werk en ʼn tyd vir uitspan. Die keuse om in Kleinmond af te tree was nie maklik nie, maar keuses gaan gepaard met opoffering. “Alhoewel dit nie maklik is om weg te gaan nie, aanvaar ons alles wat oor ons pad gekom het en is gelukkig en tevrede met ons keuse om Kleinmond toe te gaan. Ons kuier al vir ʼn paar jaar daar en ons hou van die mense, die berg, die see, die fynbos en glo dit is alles ʼn legkaart van Bo”.

Johan en Annemarie bedank die gemeenskap uit die diepte van hul harte. “Ons kan net getuig van ’n wonderlike gesindheid en sal al die mooi herinneringe asook die lief en die leed van die bosveld en sy mense met ons saamdra”.

Verder bedank Johan vir Tina Venter, Amelia Pretorius en Miranda Brits, drie dames wat hulle deur al die jare by die praktyk bewys het as bekwame, knap, raakvat, lojale personeellede. En natuurlik bedank hulle beide hul kinders wat hulle onvoorwaardelik bystaan en ondersteun.

Hul boodskap aan die gemeenskap is: ”Totsiens liewe vriende. Mag julle op alle gebiede geseënd wees”.

Die praktyk sluit gedurende die maand. Miranda Brits sal op bystand wees vir enige verdere navrae by 072 971 7927/082 337 5654, epos: prokgve@gmail.com.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.