Trien Oberholzer — vrou van staal

LEPHALALE — Tannie Trien Oberholzer is nie vandag se kind nie. Sy het haar ma reeds op 7-jarige ouderdom aan die dood afgestaan waarna sy stoksielalleen in Junie 1940 as graad 1-leerder by Laerskool Unitas in Swartwater ingestap het. (Dié skool vier vanjaar hulle 100-jarige bestaan).
Tannie Trien se ma is op 37-jarige ouderdom dood nadat sy waarskynlik ʼn beroerte gehad het. Sy sê sy kan daardie dag goed onthou – “ek het padlangs na die naaste bure gehardloop om hulp te kry”. Sy het grootgeword op die plaas Goergap naby Beauty.
Nadat sy haar laerskoolopleiding voltooi het by Laerskool Unitas, is sy na Hoërskool Nylstroom omdat Hoërskool Ellisras nog nie ʼn koshuis gehad het nie.
Na skool, sy was 19 jaar oud, het sy by die Poskantoor in Ellisras begin werk. Dit is ook hier waar sy vir Maans Oberholzer ontmoet het. Hy het die enigste vulstasie in die dorp gehad. Hulle is in 1953 getroud en vyf kinders is uit die huwelik gebore. Sy is geseën met 16 kleinkinders en 14 agterkleinkinders.
Sy praat met trots van haar kinders, Kobus, Hennie, Albert, Tia, Elsie en Maans en vertel dat sy al 43 jaar oud was met Maans se geboorte (tien jaar ná Elsie).
Tannie Trien en twee vriendinne (onderskeidelik 84, 82 en 87 jaar oud) wat almal by Laerskool Unitas skoolgegaan het, het die skool onlangs besoek en sy kan nie uitgepraat raak oor hoe vriendelik, goed opgevoed en behulpsaam die personeel en leerders was tydens hulle besoek nie.
Tannie Trien woon reeds 20 jaar in haar huis op die bult buite Ellisras. Haar veilige hawe waar sy woel en werskaf en naby haar jongste kind woon.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.