Tuk Tuk wie’s daar?

LEPHALALE — Jan Schoeman (52) en sy twee seuns, Henko (26) en Zak (20), het op 5 April 2018 uit Dar Es Salaam in Tanzanië met ʼn Tuk Tuk (driewielvoertuig) vertrek. As alles volgens plan verloop behoort hulle driewielavontuur aan die einde van April in Pretoria te eindig.

Zak, Jan en Henko by hulle Tuk Tuk

Die hoofdoel van die “road trip” is om geld in te samel vir ʼn tehuis vir gemolesteerde kinders in Tanzanië om die kinders te help en te bemagtig om ‘n beter lewe te hê.

Dié pa en seuns bedryf ʼn konstruksiemaatskappy in Tanzanië, maar Jan se ma, Sannie Engelbrecht, en sy neef, Pastoor Jan Bezuidenhout, woon in Lephalale. Mogol Pos het met hulle gesels tydens hulle ruskans by Sannie op die plaas.

Die kaalvoet driestuks is sigbaar al ʼn hele ruk op die pad in ʼn piepklein voertuig met min spasie en geen vooruitbespreekte oornagplek nie.

Wat vier jaar gelede as ʼn grap begin het, het realiteit geword toe Jan besluit om sy Cruiser te verkoop en ʼn tweedehandse Tuk Tuk te koop. Dié Tuk Tuk is binne twee weke ombou en herstel. Reg vir die rit van ongeveer 4 000 km teen gemiddeld 30 km per uur na Pretoria. Met Jack (in geval van ʼn pap band) en Daniël (die handbriek) ingepak.

Hulle ervarings vanaf Dar Es Salaam tot in Lephalale, waar hulle Donderdag 19 April gearriveer het, is te veel om te noem. Om ʼn paar op te som – hulle (en hulle Tuk Tuk) is onder andere deur ʼn vragmotor met twee sleepwaens gesleep, hulle het ʼn paar keer in die bosse geslaap, die Tuk Tuk het soms enjinprobleme gekry en hulle kon nie by enige OTM in Harare geld trek nie.

Hulle het vanaf Alldays deurnag tot in Lephalale gery – en watter weersiens was dit met Ouma Sannie wat hulle vyf jaar gelede vir die laaste keer gesien het.

Jan maak dit baie duidelik dat die besondere ervaring wat hy met sy seuns deel, te dankie is aan vier borgskappe wat hulle ontvang het. Hulle bedank almal wat hulle langs die pad “raakgery” het wie aan hulle akkommodasie en kos verskaf het en vra dat die mense hulle op hul pad vorentoe vir die volgende week ook sal help.

Inligting vir bydraes tot die tehuis in Tanzanië kan verkry word deur op die volgende skakel te klik: https://gofundmesa.co.za/three-wheel-adventure-africa-goal-r50-000/

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.