Twee dood in botsing

Leoni Kruger
LEPHALALE — ’n Saak van strafbare manslag is geopen by Lephalale SAPD na ’n botsing te Nelson Mandela-rylaan om ongeveer 16:45 op Maandag 4 November.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Polisie se klusterwoordvoerder, word daar beweer dat die 57-jarige Sabao Simon Mausse, bestuurder van ’n Scania-vragmotor met registrasienommer HJ 33 XF GP, vanuit ’n oostelike rigting op pad was in ’n westelike rigting in Nelson Mandela-rylaan. Mausse woon in Dennilton.

Die bestuurder van ’n wit Toyota Hilux met registrasienommer CSH 154 L, die 77-jarige Niek Erasmus, was vanaf ’n suidelike rigting op pad Noord in Palala-rylaan. Volgens ao Mokoena het Erasmus by die stopteken waar Palala doodloop in Nelson Mandela gestop en by Nelson Mandela ingedraai. ’ n Botsing het plaasgevind.

Twee passasiers wat in die Hilux was is op die toneel dood verklaar. Hulle was albei Zimbabwiese burgers, maar hulle name kon teen druktyd nie bekendgemaak word nie, aangesien hulle familie nog op pad was na Lephalale om hulle uit te ken.

Erasmus is ernstig beseer en is na die Mediclinic Lephalale geneem. Hy is later na Unitas Hospitaal in Pretoria geneem waar hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is met veelvuldige beserings.

Die 5-jarige Jimmy Mojo wat saam met hom in die voertuig was, is volgens inligting ontvang nie beseer nie.

Volgens ao Mokoena het Mausse geen beserings opgedoen nie.

Die saak word verder ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.