Van bome tot kleiosse

Gert se kleios

LEPHALALE — Die knellende droogte en warm bosveld kon die lede van die Dendrologiese vereniging se tak Manketti nie keer om Saterdag 3 Februarie ʼn uiters interessante uitstappie na Fahad Game Lodge langs die Limpoporivier mee te maak nie.

Daar is vir ongeveer 10 km langs die rivier se wal gery en Gert du Plessis met sy ongelooflike kennis oor bome met slim name en al het as boommeester opgetree en uitstappiegangers kon uit dié bron van kennis put. Bome onder bespreking was veral die anaboom, rivierrankdoring, appelblaar, Transvaalse katjiepiering, grootblaarkoorsbessieboom en die wilde dadelpalm.

Dit was ʼn groot verrassing toe oud-onnie van Hoërskool Ellisras, Dries Joubert en sy vrou Ena, wat in die omgewing kuier van Pretoria af, hulle ook by die groep aangesluit het. Dries versamel self houtmonsters van inheemse bome en het al meer as 300 monsters. Hy het ook gewys hoe die deursnee van ʼn boomvaring lyk wat vir 35 jaar in sy tuin gestaan en toe om een of ander rede gevrek het. Die groep was duidelik gefassineer deur dié verskynsel. Hulle was ook gelukkig genoeg om nat klei van ʼn reuse miershoop af te haal waarna die herinneringe dadelik onder ʼn paar bekwame hande kleiosse geword het.

Nog ʼn boompie met die interessante naam, kokkeder, oftewel die dwergsoetdoring, is van alle kante bekyk.

Na ʼn warm dag in die veld is die uitstappie afgesluit met ʼn welkome braai by een van die chalets. As jy volgende keer van die uitstappies wil meemaak, skakel gerus vir Marthie Scheepers by 083 609 0181 vir enige verdere inligting oor Tak Manketti en toekomstige uitstappies.

(Nog foto’s van dié heerlike uitstappie is op Mogol Pos se Facebookbladsy te sien – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.