Veiligheidstrukture moet fokus op nood

LEPHALALE — Jaco Grobbelaar, Afriforum se streekskoördineerder in Limpopo, het Lephalale op Dinsdag 17 Oktober besoek en vir Mogol Pos gesê dit is vir hulle duidelik dat die onderskeie veiligheidstrukture en belangegroepe in Lephalale sal moet integreer en saamwerk om gemeenskapsveiligheid te bevorder.
AfriForum Ellisras se bestuur het aangedui dat hulle graag ʼn samewerkingsooreenkoms met die Lephalale gemeenskaps-polisiëringforum (GPF) wil teken sodat individuele verskille uit die weg geruim kan word. “Die verskille moet opsy gesit word sodat daar op die gemene deler, veiligheid in die gemeenskap, gefokus kan word.”
AfriForum Ellisras het aangedui dat hulle gewillig is om 20 stelle magnete te borg sodat die GPF hulle huidige embleem kan vervang met die embleem wat hulle tans gebruik en onwettig is. Die huidige embleem inkorporeer die SAPD se embleem en dit is teen die wet.
“Verder wil AfriForum patrollie-, misdaadtoneel- en insidentbeheer-opleiding aanbied aan alle veiligheidstrukture in die opgewing om te verseker dat alle veiligheidsrolspelers in en om Lephalale die nodige kennis het in tye van nood.
ʼn Samewerkingsooreenkoms is Donderdag 19 Oktober na alle veiligheidsinstansies in die gebied gestuur in ʼn poging om veiligheid in die gemeenskap te verbeter. Die ooreenkoms is aan die GPF (gemeenskappolisiëringsforum) en LGVF (Lephalale gemeenskapveiligheidsforum) in dié gebied gestuur.
Volgens Grobbelaar behels dié ooreenkoms dat al die veiligheidsinstansies in die dorp saamwerk om misdaad te bekamp; individue of groepe geen afbrekende uitlatings teen mekaar sal maak of enigiets sal doen wat enige van die ander individue of instansies sal skade aandoen nie.
Aldo Venter, voorsitter van AfriForum in Lephalale, het teen druktyd bevestig dat lede van
Afriforum, TLU, AGRI SA en HPG Dinsdag 24 Oktober in Modimolle vergader het om die onderskeie veiligheidstrukture se verantwoordelikhede en rolle in die gemeenskap te bepaal. Lede van die GPF was nie teenwoordig nie, omdat Thys Eloff, voorsitter van Lephalale GPF, met verlof is.
Een van die groot redes waarom ʼn samewerkingsooreenkoms tussen die veiligheidstrukture in Lephalale noodsaaklik is, is omdat daar wrywing was tussen veral AfriForum- en GPF-lede op die toneel na die moord op dr Werner Emslie op 20 September vanjaar.
Volgens inligting was daar meer gefokus op die geskille tussen partye as wat daar gefokus was op die nood en erns van die situasie. Die toneel is ook na bewering vertrap wat die polisie se ondersoek bemoeilik het.
Die stories wat na die insident deur die onderskeie partye versprei is om mekaar te benadeel, het die deurslag gegee.
Daar is nie plek vir ego’s in ʼn noodsituasie nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.