Verkeerslig plat, voertuie beskadig

LEPHALALE — Vrydag 29 Junie, vroegoggend, was daar ʼn ernstige botsing by die verkeerslig by Sasol Vulstasie. Mogol Pos het die polisie, verkeerspolisie en ambulanse op die toneel aangetref.

Volgens ʼn vriendin van die bestuurder van die Audi A4 met registrasienommer ND 416-505, wat met Mogol Pos se aankoms reeds op die toneel was, wou haar vriend vanaf Lephalale Mall regs draai in die rigting van Lephalale dorp. Sy het beweer die verkeerslig was oranje toe haar vriend oor die kruising regs draai. Indien dit die geval was, sou die groen regsdraaipyltjie vir verkeer in die rigting van Ellisras Distrikshospitaal daarna eerste gereflekteer het. Sy het verder beweer dat die bestuurder van die Toyota Quantum minibus met registrasienommer DNT 870 L vanaf rigting Lephalale egter reguit oor die kruising gery en gebots het met die Audi A4. Dié is teruggestamp en die verkeerslig is in die proses totaal uit die grond gestamp.

Ambulanspersoneel was besig om persone binne in die Quantum te versorg terwyl die bestuurder van die Audi A4 wel op die toneel was met ʼn verband om sy kop.

Die polisie was besig om verklarings af te neem.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, woordvoerder van Lephalale Kluster, is hierdie voorval nie in die voorvalleregister of ongeluksverslagboek aangeteken nie en kon hy geen verdere inligting aan Mogol Pos verskaf nie.

Dit is dus onbekend of enige insittendes van die Quantum ernstig beseer was in die voorval.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.