Vinnige reaksie — Vermeende stropers gearresteer

OVERYSSEL — Drie verdagtes is Maandag 23 Julie gearresteer nadat hulle vermoedelik renosters wou stroop op ʼn wildplaas in die Overyssel-omgewing.

Die verdagtes het sokkies oor hulle skoene aangetrek om die spoorsnyers op ’n dwaalspoor te sit

ʼn Verdagte swart Toyota Corolla is omstreeks 05:00 Maandagoggend op sekuriteitskameras in die Overyssel-area gesien en boere in die omgewing is onmiddelik per noodradio gemobiliseer.

Die verdagtes se spore is opgemerk waar dit die plaas betree het – presies op dieselfde plek waar ʼn renoster voorheen onwettig gejag was. Dit was duidelik dat die verdagtes geweet het waar die renosters gehou word.

Die SAPD Bedreigde Spesies-eenheid, die Heritage Protection Group (HPG), plaaslike spoorsnyers, Kallie Knoetze van Welgevonden en boere in die omgewing het baie vinnig opgetree en alle toegangsroetes tot die plaas toegemaak.

Twee helikopters was teen eerste lig in die lug om met die soektog te help en spoorsnyers het die spore gevolg. Die eerste twee verdagtes is omstreeks 09:00 op die plaas gearresteer nadat hulle opgemerk is waar hulle onder ʼn bos weggekruip het.

Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden van die Bedreigde Spesies-eenheid, het die verdagtes onder andere ʼn hele paar brode, koeldranke, twee groot jagmesse, ʼn tang, foelie (waarin hulle glo die horings toedraai), swart sakke en ongeveer sewe rondtes ammunisie by hulle gehad. Hulle was egter nie in besit van enige wapen nie.

Ao Van Heerden sê hy is positief dat die verdagtes hulle reggemaak het om ʼn dag of drie op die plaas te bly en hulleself te vergewis van die bewegings van die mense en renosters voordat hulle waarskynlik sou toeslaan. Baie dinge dui ook daarop dat die omgewing nie vir hulle onbekend is nie.

Die derde verdagte is rondom 14:00, op ʼn buurplaas, gearresteer nadat die helikopter hom tot stilstand gedwing het. Volgens ao Van Heerden het hy ook geen vuurwapen by hom gehad soos die ander twee verdagtes beweer het nie.

Die spanne het onverpoos bly soek en teen 17:30 is die .375-jaggeweer (ook bekend as ʼn CZ) met knaldemper langs ʼn stomp in die veld gevind met drie rondtes ammunisie klaar gelaai.

Die verdagtes was teen druktyd in die aanhoudingselle by Villa Nora SAPD en hulle het Woensdag 25 Julie in die Landdroshof in Lephalale verskyn. Die uitslag van die hofverskyning was nie teen druktyd bekend nie.

Ao Van Heerden sê dié operasie was een van die beste operasies waarby hy nóg betrokke was betreffende samewerking tussen die gemeenskap en die ander spanne teenwoordig. “As alle operasies maar net so goed wou verloop en almal so kon saamwerk sou dit wonderlik gewees het,” sê hy.

Hy het egter beklemtoon dat die radiokommunikasie, veral aangesien daar geen selfoonsein of –opvangs in die area is nie, ʼn probleem was.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.