Vloede, noodhulp, brande en GPF-planne

LEPHALALE — Die maandelikse Landelike Veiligheidforum (LVF)-vergadering is Donderdag 21 Februarie by Agri se kantore gehou en belangrike veiligheidsaspekte is bespreek.

Nic du Toit, voorsitter van die Brandbestrydingsvereniging (BBV), het gesê hy werk baie nou saam met die Suid-Afrikaanse weerburo en volgens alle aanduidings kan die Lephalale-omgewing vanaf einde Maart tot middel Mei 2019 baie reën verwag met die moontlikheid van vloede nie uitgesluit nie.

Die voorsitters van alle wyke (soos Afguns, BOG, TOOG, ens) moet vir al die lede in hulle wyke ʼn oorsigkursus in noodhulp reël. Dit is belangrik dat veral inwoners van die landelike gebiede die basiese noodhulpbeginsels ken, soos byvoorbeeld mond-tot-mond-asemhaling en basiese wondsorg. Skakel die LVF-kantoor by 083 321 5927 vir meer inligting hieroor.

Alle voorbrande moet teen die einde Junie van elke jaar afgehandel word en brande moet gerapporteer word aan die BBV by 082 469 0638 sowel as Delta 1 by die noodnommer 081 701 1089.

Thys Eloff van die GPF het bevestig dat die GPF weer later vanjaar ’n Toyota Etios gaan uitloot ter befondsing van die GPF in Lephalale en daar word ’n knipmesaand vir die manne beplan in April waartydens drie bokke en ’n vark op die spit gebraai sal word.

Die reaksiemag van die GPF is baie bedrywig met operasies en hulle gaan binnekort opleiding ontvang rakende die deursoek van swaar voertuie.

Die GPF is tans besig met ’n onderhandelingsproses vir drie vliegtuie (onder andere ’n helikopter) wat beskikbaar sal wees tydens noodsituasies. Die logistieke met betrekking tot landingsplekke en brandstof moet nog gereël word – daar sal van die gemeenskap verwag word om wel brandstof te betaal.

Daar word ’n beroep gedoen op alle GPF-lede om die regte beskermingsklere, ’n glimbaadjie en flits tydens operasies te dra.

Daar word weer eens ’n versoek gerig dat alle wyksvoorsitters die plaasnommering opdateer. Dit vergemaklik die vind van plase in noodsituasies.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.