Vonds op Tambotiekop — verdagtes vlug

LEPHALALE — Verskeie huisbraaktoerusting en 16 Lead Acid-batterye is Saterdagaand 28 September op die Tambotie-koppie sowat 10 km buite Lephalale gevind. Die waarde van die batterye alleen is sowat R80 000.

Dié vonds is gemaak nadat ’n beroepsjagter wat op ’n plaas in die Tambotie/Overyssel-area (TOOG) gejag het, Saterdagoggend 28 September omstreeks 12:00 gesien het daar is iets, wat lyk soos ’n battery, op die koppie.

Hy moes egter aangaan met die jag en het nie veel aandag daaraan gegee nie. Toe hy teen 16:00 op pad kamp toe verby die koppie loop, sien hy hoe ’n jong seun ’n waterbottel en rugsak weggooi en weghardloop. Hy het besef iets is nie pluis nie.

Hy het die plaaseienaar laat weet wat hy gesien het, en gemeenskapslede van TOOG is na die toneel ontbied om paaie toe te maak en spore te volg. Die GPF se hulp is omstreeks 18:40 ingeroep.

Met die volg van die spore is daar op 16 batterye, soortgelyk aan die batterye wat in selfoontorings gebruik word, asook verskeie ander gereedskap afgekom op ’n serwituut op die koppie wat aan die lugmag behoort.

Volgens Danie Slabbert, wat verantwoordelik is vir die instandhouding en onderhoud by die toring, was hy nie die spesifieke aand daar nie. Hy sê die verdagtes het ’n groot gat in die buitenste draad gesny waardeur hulle geklim het. Hulle het ook die elektriese heining omseil en die deur oopforseer waarna die batterye gesteel is.

’n Lid van die GPF se “first responders” sê hulle vermoed die voorval hou verband met ’n voorval waar ’n verdagte bakkie op die Visgatpad opgemerk is. Die bakkie het kort-kort stilgehou en mense op- en afgelaai. Dit is opgevolg maar niemand is vasgetrek nie.

Hy sê een so ’n battery weeg sowat 70 kg en hulle was agt sterk mans wat amper ’n uur gesukkel het om die batterye van die koppie af tot by hulle bakkie te kry. “Daar was ’n kruiwa en ’n dranktrollie bo-op die kop gekry wat daarop dui dat hulle dit gebruik het om die batterye te beweeg,” sê hy. Hy sê ook die moontlikheid dat hulle daar oornag het, kan nie uitgesluit word nie.

Een van die spore is ’n klein spoor soos dié van ’n jong kind en die ander twee spore dui op ’n nommer 10- en 12-skoengrootte.

Die lang tydsverloop vandat onraad vermoed is totdat hulp ingeroep is, het die verdagtes waarskynlik genoeg tyd gegee om weg te kom en niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die gesteelde items is by Lephalale Polisie ingehandig.

Die saak word ondersoek.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.