Vroue-inspirasie

Sonja Heroldt

LEPHALALE — Die bekende en beminde Sonja Heroldt het Saterdag 21 Oktober by Mogolklub se funksiesaal opgetree ter fondsinsameling van die VLU se Bosveldstreekkonferensie wat op 28 Februarie 2018 naby Thabazimbi gehou word. Ria Strydom, Bosveldstreekvoorsitter het dié damesoggend gereël.
Daar is tien VLU-takke in die Bosveldstreek en elkeen van dié takke moes twee tafels van eet- en drinkgoed voorsien en gaste bedien.
Al die kaartjies vir dié inspirerende oggend vir vroue was uitverkoop en die saal was stampvol vroue – honger vir goeie nuus en inspirasie.
Sonja het begin deur te sê dat elke jong meisie droom van haar ridder op sy wit perd en dat baie vroue dan later in hulle lewe ontnugter word omdat die dogtertjiedroom nie die werklikheid is nie. Hulle raak dan afhanklik van hulle ridder se goedkeuring en liefde om volledig mens te voel.
Sy het verduidelik dat mens moet onderskei tussen “to love and to need”. “Mens het geen verhouding ‘nodig’ nie, behalwe jou verhouding met God”.
“Dis is belangrik om jou eiewaarde raak te sien. Mens moet opstaan en grense stel om jouself te beskerm en om te groei na ʼn plek waar jy nie afhanklik is van ander se goedkeuring of aanvaarding om goed oor jouself te voel nie. Mens soek baiekeer jou eiewaarde in die dinge om jou en dan is bonatuurlike ingryping in jou lewe nodig om by die waarheid stil te staan” het sy verduidelik.
Sonja, wat self die “grondpad” van die lewe geloop het, het gesê dat aanhoudende stres en negatiewe energie later veroorsaak dat jou liggaam siek word.
“As jy weet jy moet iets doen aan jou omstandighede om te groei in jouself en jou eiewaarde terug te kry, doen dit. Opgehoopte negatiewe energie is stres en dit is moeilik om stres heeltemal uit jou lewe te sny. Stres is eintlik ʼn goeie ding, maar dit moet reg bestuur word”.
Sonja het saamgevat dat die VLU ʼn organisasie is vir vroue sodat hulle mekaar kan ondersteun. Dit bevorder goeie verhoudings wat lei tot gesonder individue.
Tharina Rossel, president van die SAVLU en Lilian Weber, streekvoorsitter van Soetdoringstreek het ook die geleentheid bygewoon en Kansablikkies is omgestuur om hulle fondse aan te vul.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.