Vuurpyllanseerders

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras se heel eerste vuurpylkompetisie is Vrydagmiddag 17 Mei op die skool se rugbyveld gehou. Fisiese en Tegniese Wetenskapleerders van graad 10-12 kon in groepe deelneem om ʼn vuurpyl te bou en lanseer.

Daar was twee reëls wat nagekom moes word om in aanmerking te kom vir die kompetisie, naamlik:
• leerders moes navorsing doen oor faktore wat ʼn invloed het op ʼn projektiel;
en
• leerders moes ʼn water- en lugaangedreweprojektiel uit ʼn plastiekbottel bou met ʼn volume van nie meer as 2,25 liter nie. Die bottel self moes die dryfkrag voorsien.
 Spanne het vyf minute gehad waarbinne die vuurpyl gelanseer moes word.
Die pryse is as volg toegeken:
• Die eerste, tweede en derde prys het gegaan aan die spanne wie se vuurpyl die verste horisontale afstand afgelê het;

• Die mooiste groen vuurpyl het ʼn kontantprys ontvang; en
• Die span met die beste gees het ‘n kontantprys ontvang.
Die eerste prys van R2 000 is gewen deur die span bestaande uit Dionnè Viviers, Anneke Rossouw en Michelle Koekemoer.

Die wenspan saam met die skoolhoof, borge en beoordelaars

Nico Oosthuizen, Annerijcke Diplock, Joeye Vorster, Clarise Kritzinger en Tatiana le Roux eindig in die tweede plek en Jan-Hendrik Rigaard, Jacques Oberholzer, Dewald Bekker en Jaco Grobler in die derde plek. Hulle wen onderskeidelik R1 000 en R500.

Die prys vir die mooiste, groenste vuurpyl is gewen deur Ina-Mari Roos en Bianca Nel en die span met die beste gees en samewerking was Anzelle Vermaak, Carissa du Plessis, Bianca Smith en Leandri Heynecke.

Adriaan Joubert, skoolhoof, het Sarette le Roux, wetenskaponderwyser, veral bedank vir die moeite wat sy doen om Wetenskap vir die leerders interessant te maak asook vir die inisiatief om so ʼn kompetisie, die eerste van sy soort, te hou.

Hy het die borge vir die dag sowel as die twee ingenieurs wat as beoordelaars opgetree het, bedank vir hulle bydrae. Ruan Slabbert, elektriese ingenieur, het in persoonlike hoedanigheid as beoordelaar opgetree terwyl Jeffrey Segokodi, ʼn betroubaarheidsingenieur by Exxaro, die myn verteenwoordig het.

“Dit was so wonderlik om te sien hoe die leerders die kompetisie geniet. Ons vertrou dat dit van nou af net gaan groei en verbeter,” het Sarette na afloop van dié geslaagde kompetisie gesê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.