Vuurwerke in spervuur

LEPHALALE — Die gebruiklike vuurwerkvertoning op die laaste dag van die jaarlikse Bosveldfees word toenemend deur troeteldiereienaars en diereliefhebbers as ʼn doring in die vlees beskou.

Amper twee weke na die Bosveldfees, maar die gevolge van die vuurwerkvertoning duur voort

Mogol Pos het met ʼn paar troeteldiereienaars gepraat oor hulle ervaring vanjaar aangesien die vuurwerkvertoning as “low noise” geadverteer is.

Almal was dit eens dat dit nie “sagter” as vorige jare geklink het nie.

Melissa Fourie, Inspekteur by Lephalale DBV, sê of dit nou ʼn “low noise” of “no noise” vuurwerkvertoning is – dit gaan diere pla.

Desire Cloete woon in Lephalale en moes die naweek van die Bosveldfees na haar dogter se hond kyk. “My dogter se huis is ʼn blok van Mogolklub af geleë en ek was nog die Saterdagmiddag daar om seker te maak die honde kan nie uit die erf kom nie en dat hulle veilig is. My dogter se huishulp het my minute nadat die vuurwerke begin het gebel om te sê Tinkerbell is weg. Sy het op ʼn plek uitgekom waar daar skaars ʼn baksteen sal kan deurkom,” sê Desire.

Desire sê sy het by elke wit papier wat langs die pad gelê het gestop en was eers teen 23:00 terug by haar huis – sonder Tinkerbell. Tinkerbell is uiteindelik Sondagoggend langs ʼn vuur gekry. Haar lyf was geskroei en haar agterpote het so verbrand dat die veearts die kussinkies op haar pote moes verwyder. Sy is naby Zebra Lodge gevind.

Sosiale mediaplatforms het gegons oor die vuurwerke by die Fees:

Ek wil ʼn beroep doen op die Bosveldfeeskomitee. Kan julle nie maar wegdoen met die vuurwerke nie. Elke jaar sien ons van verlore diere wat deur eienaars gesoek word! Ek plaas ʼn foto van ʼn vriendin se hondekind wat Saterdagaand op ʼn onverklaarbare manier uit hul erf gekom het. Sy het redelik ver gehardloop (oor ʼn besige pad). Sy het deur vuur gehardloop en is tans by die veearts in die hospitaal om brandwonde te behandel. ASSEBLIEF! Ons diere kry bitter swaar met die vuurwerke! My eie hond het drie jaar gelede by die kleinste moontlike opening by die erf uitgekom as gevolg van die vuurwerke.

Op ʼn WhatsApp-groep vir DBV-vrywilligers is daar onder andere die volgende opgemerk: Fireworks are so loud here in Onverwacht. I hope this doesn’t go on long.

Is dit by die Bosveldfees? My honde ook baie “upset”.

Dit is hoekom ek en my gesin nie die Bosveldfees ondersteun nie.

We stay close to Mogol – it is very loud!

If people can only start to think. I hate fireworks, I wish it can be banned someday, we also don’t support it, I rather enjoy time with my family and four-legged babies.

Mogol Pos het Marie Seegers, voorsitter van die Bosveldfeeskomitee, oor die netelige kwessie genader.

Sy kon nie die komitee se planne vir die volgende fees bevestig nie, want dit moet eers op ʼn amptelike komiteevergadering bespreek word, maar sy het Mogol Pos verseker dat die toekoms van die vuurwerkvertoning by die Fees definitief ʼn besprekingspunt by die volgende vergadering sal wees en dat sy vir seker daaraan sal aandag skenk.
“Dit is vir die Bosveldfeeskomitee ʼn baie belangrike saak en ons deel die bekommernis oor diere. Ons gaan beslis dringend aandag hieraan skenk en sodra alle opsies ondersoek en bespreek is sal ons terugvoer aan die gemeenskap gee,” sê sy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.