Waarom hou wagter van jou gehoorapparaat?

L LEPHALALE — Nadat Mogol Pos vir die soveelste keer gehoor het van honde wat hulle eienaars se gehoorapparate “opeet” is daar nader ondersoek ingestel.

Nóg ʼn gehoorapparaat deur Wagter verwoes

Is dit die klank wat hulle trek? Of smaak die gehoorstuk dalk na die eienaar?

Volgens Helen Elliot, veearts by Ellisras Dierekliniek, is die bewerings waar – honde eet graag gehoorstukke omdat dit ruik na die eienaar en lekker proe … dit smaak blykbaar na die oorwas van die eienaar … en ook omdat dit so mooi geluid maak.

Volgens Helen het hulle al ʼn geval gehad waar die eienaar van die hond die skril geluid van die gehoorapparaat binne die maag van die dier kon hoor!

Helen sê die batterye wat in gehoorapparate is, is baie klein en dit word gewoonlik op die natuurlike manier uitgeskei. Geen rede tot groot bekommernis nie.

Volgens Yolandi Graham, oudioloog in Lephalale, eet honde gereeld gehoorapparate.

“Ons kan nie altyd die fluit-fluit-geluid hoor nie, maar honde se gehoor is baie goed en dan stel hulle ondersoek in waarvandaan die geluid kom en dan ruik dit boonop na iemand vir wie hulle lief is.
 “As die apparaat nog in produksie is (nog gemaak word), hoef net die een wat gekou is vervang te word en dit het al gebeur dat honde net ‘lig’ gekou het en ons die apparate kon herstel.

“Wanneer die apparate nie meer in produksie is nie, vervang ons gewoonlik die stel (moderne gehoorapparate kommunikeer met mekaar en neem inligting van die ander in ag wanneer ‘besluite’ geneem word oor hoe om op klanke te reageer).

Mense het soms versekering wat darem hiervoor betaal of help betaal. Mediese fondse help ook soms – dit hang van die fonds af, die lede se opsies en hoe lank gelede daar gepas is,” verduidelik Yolandi.

Sy sê die koste van gehoorapparate wissel baie. “Daar word na die persoon se gehoorafname (verskillende apparate werk beter vir verskillende verliese), leefstyl (kom hy/sy in omgewings met baie agtergrondsgeraas, is die telefoon en TV prioriteite), styl-voorkeur (verkies hy/sy apparate wat byvoorbeeld in die oor of agter die oor kom), ensovoorts,” sê sy.

Yolandi sê dit is moeilik om ʼn prys aan gehoorapparate te koppel omdat daar so baie variante is, maar apparate per stel kan wissel van R8 000 (vir intree-apparate) tot R70 000 per stel (wat met jou iphone kan “stream” sonder addisionele toerusting en herlaaibaar is). Dit sluit die herlaaiers in.

Die beste raad aan alle eienaars van gehoorapparate is: bêre liefs die klein (en duur) apparaatjie waar Wagter en sy trawante dit nie kan bykom nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.