Wat van orgaan- en weefselskenking?

LEPHALALE — Het jy al daaraan gedink om as orgaan- en weefselskenker te registreer? Waarom doen so min mense dit as dit ander se lewens kan red? Hoe gaan ek te werk en wat behels die proses van skenking?

Mogol Pos het gaan kers opsteek by Samantha Nicholls, direkteur by die Stigting vir Orgaanskenking en vir haar ’n paar algemene vrae gevra oor die proses en hoe dit die skenker se gesin en familie kan raak.

Mogol Pos: As ek as orgaanskenker geregistreer is en sterf, sal my kinders by my kan wees tot die einde?

Samantha: Orgaan- en weefselskenking kan slegs oorweeg word wanneer die skenker breindood verklaar en op ’n ventilator is. Die familie moet saamstem daaroor en die skenker moet geskik wees om te skenk. Die familie van die skenker kan by hom/haar bly tot aan die einde.
MP: wat gebeur as ek doodgaan en ek is ’n orgaanskenker? Hou die dokters my kunsmatig aan die lewe met masjiene? Is dit nie traumaties vir my geliefdes as ek reeds breindood verklaar is, maar nog asemhaal nie?

Samantha: ’n Persoon wat breindood verklaar is kan nooit weer lewe nie. Hy/sy is klinies dood. Die ventilator sorg slegs dat suurstof en bloed deur die organe vloei om dit lewensvatbaar te hou. Die persoon is reeds dood.

MP: Hoe weet die dokters ek is regtig dood?

Samantha: Twee dokters, wat totaal onafhanklik is van die oorplantingspan, moet gedetailleerde elektroniese toetse doen voordat so ’n persoon breindood verklaar kan word. Die kriteria vir breindood word baie streng nagevolg en aanvaar op mediese, wetlike en etiese gebiede in Suid-Afrika en internasionaal aanvaar.

MP: Mense wat byvoorbeeld in Lephalale woon is ver van gespesialiseerde mediese dienste. Sê byvoorbeeld iemand gaan dood in ’n motorongeluk – wat is die prosedure wanneer so ’n persoon ’n orgaanskenker is?

Samantha: Wanneer iemand sterf, en die familie besluit om wel die persoon se organe en weefsel te skenk, moet die Stigting vir Orgaanskenking direk geskakel word by ’n tolvrynommer: 0800 22 66 11 of na ure by 082 318 4376. Enige familielid kan die nommer skakel om organe en weefsel te skenk.


Jou geliefdes is deel van die hele proses – vandat goedkeuring gegee is totdat skenking plaasvind.

MP: Wat is die huidige statistieke van mense wat wag op orgaanskenkings?

Samantha: Daar is tans meer as 4 300 kinders en volwassenes wat wag op orgaan- en weefseloorplantings en minder as 600 oorplantings (organe en korneas) vind tans jaarliks plaas.

MP: Hoeveel lewens kan ’n gesonde persoon red deur organe en weefsel te skenk?

Samantha: Een skenker kan tot sewe mense se lewens red deur organe te skenk – jou hart, lewer en pankreas kan drie lewens red en jou niere en longe kan tot vier mense se lewens red. Jy kan sowat 50 mense se lewenskwaliteit verbeter deur weefsel soos korneas, vel, bene en hartkleppe te skenk.

MP: Sal die begrafnis of verassing van ’n skenker beïnvloed word of uitgestel moet word?

Samantha: Nee, sodra die organe of weefsel verwyder is, word die liggaam aan die familie terugbesorg sodat hulle kan voortgaan met die begrafnis of verassing.

Mogol Pos: Hoe gaan ek te werk om te registreer as orgaanskenker?

Samantha: Dit is maklik – registreer aanlyn by www.odf.org.za of skakel die tolvrynommer 0800 22 66 11. Dit kos jou niks en jy hoef geen toetse te ondergaan nie. Al wat dit kos is ’n paar minute van jou tyd.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.