Wildbedryf vol uitdagings

Phillip Bronkhorst

LEPHALALE — Phillip Bronkhorst, Voorsitter van die Limpopo Hunters Liaison Forum (LHLF) en bestuurslid van die Professional Hunters’ Association of South Africa (PHASA), het Donderdag 16 November tydens die WRSA (Wildlife Ranching South Africa) se vergadering terugvoer gegee oor PHASA, LHLF en die nuutgestigde Conservation Research Fund (CRF).
Hy het gesê dat uiters belangrike en rigtinggewende dinge die afgelope jaar in die wild- en jagbedryf gebeur het. “Daar is beperkte inligting oor die voorkoms, gedragspatrone en habitat by spesies soos luiperds, ratels, bruin en gevlekte hiënas,” sê hy.
Volgens Phillip is bogenoemde spesies onder die vergrootglas geplaas en die uitreik van wettige jagpermitte is uiters beperk en in sommige areas heeltemal gestaak. Dit het gelei tot die onwettige jag van sommige van die spesies. As deel van ’n Hunters Care projek gaan die wild- en jagbedryf hande vat en deur middel van navorsing hul eie wetenskaplike data bekom.
Volgens Phillip was fondse vir navorsing uit eie geledere nog altyd ʼn probleem, maar daar is mense en organisasies in die buiteland wat besef wat dit kos om die wildbedryf en navorsing aan die gang te hou en het reeds, saam met plaaslike jagters, fondse geskenk vir navorsing oor veral luiperds. Die einddoel is ʼn databasis wat vir wetenskaplikes beskikbaar sal wees.
Dr Bennie Nkabeng Maruping-Mzileni, wat haar doktoraal gedoen het oor leeus in die Krugerwildtuin, is aangestel om die CRF-projek namens jagters te hanteer. Sy verteenwoordig die jagbedryf by SANBI (South African National Biodiversity Institute) wat op hulle beurt raadgewende voorstelle aan die Departement van Omgewingsake maak.
Phillip het voorts gesê dat goeie samewerking en skakeling tussen wildboere en LEDET (Limpopo Natuurbewaring) noodsaaklik is sodat LEDET die uitdagings van die wild- en jagbedryf kan verstaan. Volgens Phillip het LEDET hul eie uitdagings en interne probleme soos ʼn gebrek aan internet, drukkersink, ensovoorts, wat kan dui op ʼn swak ekonomiese situasie.
“LHLF is tans behulpsaam om alle distrikskantore in Limpopo op standaard te probeer kry deur middel van kommunikasie met die hoofkantoor in Polokwane. Daar word gepoog om veral die uitreik van permitte deur middel van elektroniese sisteme te vergemaklik en ʼn koste-effektiewe oplossing te vind vir die wildboer, jagondernemer en alle ander rolspelers in dié bedryf”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.