Winter Wonderland vir Matrieks

LEPHALALE — Die meeste matriekleerders van 2019 het Vrydagaand 20 September hulle 12 jaar op skool amptelik afgesluit.

Vanjaar se 132 matrieks van Hoërskool Ellisras het Vrydag vanaf 16:00 tot ongeveer 18:30 die geleentheid gehad om hulle spoguitrustings op die rooi tapyt en loopplank aan die publiek te vertoon.

Met Paul von Marle as seremoniemeester het alles seepglad verloop.

Die voertuie waarmee die leerders by die geleentheid opdaag is elke jaar iets om te beleef. Van Land Cruisers tot Vollas tot slap sportmotors en groot nutsvoertuie. Iets vir elkeen se smaak.

Die pawiljoene by die A-rugbyveld by Hoërskool Ellisras was gepak met belangstellendes en familielede wat nie die jong volwassenes se oomblik van glorie wou misloop nie.

Met ’n tema soos “Winter Wonderland” was die saal sprokiesmooi getooi (kompleet met ’n sneeumasjien) en die leerders was verstom dat hulle skoolsaal in ’n towerwêreld omskep kon word.

Von Marle het die verwelkoming behartig, waarna Johann Young, voorsitter van die beheerliggaam, die geleentheid geopen het. Die hoofseun en -dogter vir 2019 en 2020, en skoolhoof Adriaan Joubert het spesiale boodskappe gelewer.

Na afloop van die formaliteite kon almal smul aan die heerlike kos en dans tot laatnag.

Die matriekafskeid sal vir die leerders uitstaan as hulle laaste skoolgeleentheid, maar die begin van die res van hulle lewens.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.