Wonderwerke gebeur steeds

LEPHALALE — Daniël Beetge (10), ’n graad 4-leerder by Hardekool Akademie, het Woensdag 8 Augustus op die gesin se trampolien by hulle huis geval. Hy het op die oog af nie seergekry nie en het nie eers daaraan gedink om sy ma daarvan te vertel nie.

Daniël het egter Fanconi Anemie, ʼn raar sindroom wat veroorsaak dat die beenmurg nie die regte hoeveelheid bloedselle produseer nie.

Kenmerke van die sindroom is onder andere abnormaliteite van die voorarms, ’n lae immuniteit en bloedstollingsprobleme as gevolg van die lae aantal bloedplaatjies.

Daniël se oënskynlike “val” op die trampolien het sy lewer laat bars en hy het inwendig gebloei.

Mogol Pos het met Jeanette, sy ma, gesels oor die voorval en die wonder daarvan dat hy dit oorleef het.

“Hy was die vorige twee weke al so bietjie verkouerig en omdat sy immuniteit so laag is kry hy soms later koors en dan moet hy antibiotika kry.

“Daniël het my daardie nag rondom 01:00 geroep en gesê sy longe pyn. Ek het gedink dit is as gevolg van ’n hoesbui wat hy ’n rukkie tevore gehad het en ek het nogal by myself gedink dit is seker longontsteking en nou gaan hy weer hospitaal toe moet gaan. Hy het weer aan die slaap geraak en die volgende oggend omtrent 08:00 (ek kan goed onthou dit was ’n vakansiedag) toe sien ek hy is verskriklik bleek. Hy het gekla van baie pyn. ’n Rukkie later was hy naar en ek het besef iets anders is verkeerd, maar ek het geen idee gehad wat nie.

“Ek het hom hospitaal toe geneem waar hulle ’n volbloedtelling gedoen het. Die HB (rooibloedtelling) was 7,5 wat vir hom heel normaal is. Ek het gedink dat dit seker maar weer tyd is vir sy twee weeklikse bloedtransfusie.

“By Mediclinic Lephalale het die dokter by ongevalle ’n X-straal van sy bolyf geneem, maar hy het nie dadelik raakgesien wat fout is nie. My huisdokter, dr Mariette Emslie, was uitstedig en sy het met dr Hester Stander gereël om ons te help. Op ’n stadium wou Daniël opstaan want hy was naar en toe ek hom na die wasbak help toe word hy flou. Hy was verskriklik bleek.

“Dr Stander het die volbloedtellingtoets herhaal en dié keer was die HB-telling skaars meer as 3. Sy het na die X-strale gekyk en gesien daar is vryvloeistof in sy buik. Sy het onmiddellik gesê dit is inwendige bloeding en Daniël moet onmiddellik na Unitas Hospitaal in Pretoria oorgeplaas word,” vertel Jeanette.

Op dié stadium het sy steeds geen idee gehad wat gebeur het en dat sy lewer gebars het nie. Sy het net geweet haar kind is in groot gevaar.

Die beste sou wees as hy per helikopter na Pretoria gevlieg word, maar weens winderige weer sou die helikopter dit nie tot in Lephalale maak nie. Hulle het gesukkel om vinnig genoeg ’n ambulans in die hande te kry.

“Dr Stander het egter nie ‘nee’ vir ’n antwoord gevat nie en sy reël toe dat ’n ambulansdiens in die dorp Daniël tot in Modimolle neem waarvandaan hy per helikopter na die hospitaal geneem sou word.

“Dr Stander het saam met hom in die ambulans gery tot in Modimolle en ek het met my eie voertuig in die pad geval aangesien daar nie plek in die helikopter vir my sou wees nie. Jou liggaam is so vol adrenalien, jy doen net wat jy weet jy moet doen. My ma het in Pretoria vir hom by die hospitaal gewag. In die helikopter het hy solank ’n bloed- en plaatjie-oortapping gekry en op pad sien ek wraggies die helikopter oor my vlieg. Dit was vir my ’n groot gemoedsrus,” sê Jeanette.

Met haar aankoms by Unitas het die chirurg haar ingewag en vir haar gesê Daniël het op die trampolien geval en waarskynlik sy lewer beskadig (die dokters het vir hom vrae gevra om te probeer vasstel wat gebeur het).

“Sy het vir my gesê as hulle nie opereer nie gaan hy homself doodbloei, maar indien hulle opereer is daar steeds ’n groot kans dat ons hom kan verloor. So wat doen mens? Ek het geweet ons moet minstens probeer. Dit was seker vir my die ergste deel van die hele gebeurtenis.

“Terwyl almal egter so werskaf en woel rondom Daniël en ek daar sit, midde in hierdie warboel, raak ek opeens bewus van God se teenwoordigheid en sien in my gees hoe Hy kalm, rustig en in beheer tussen almal is en hoe Hy elkeen beheer en seker maak hulle doen wat hulle ook al moet doen. Dit het my laat besef, hoewel ék geen beheer het nie – Hy is in beheer. Dit was die eerste vertroosting wat ek van die Here af gekry het.

“Net hierna sê hulle ek moet saam teater toe stap en hom groet. Hoe sê jy vir jou kind totsiens met die wete dat jy hom dalk nooit weer gaan sien nie? Natuurlik sê jy: ‘Sien jou weer later my kind, wees sterk. Alles gaan regkom!’ Maar dit was nie maklik nie.

“Ek het daar uitgestap en was totaal gedisoriënteer en verdwaal. Ek het ’n badkamer gekry waar ek alleen kon wees. Ek wou bid maar ek het glad nie geweet wat om te sê nie. Hoe bid mens dat God se wil sal geskied as jy weet jou wil verskil dalk van Syne? Weer het ek in my gees gevoel hoe die Here Sy arms om my sit en sê ‘sjuut, moenie bid nie, Ek weet presies.’ Dit was my tweede gerusstelling van die Here af,” sê Jeanette.

Sy eerste besoek aan die teater was net om die bloeding te probeer stop (daar is ten minste ’n liter bloed uit sy buik verwyder). Hy sou die Saterdag weer teater toe gaan, maar teen Vrydagmiddag het hy weer ernstig begin bloei en hy is dadelik teater toe.

Jeanette sê die tweede operasie was vir haar baie traumaties. Hulle moes minstens 40% van die lewer verwyder en die dokters het weer voor die tyd vir haar gesê daar is ’n kans dat hy dit nie gaan oorleef nie.

“Hy was meer as vyf ure in die teater. Ek was gedaan van bekommernis, maar toe kry ek sowaar ’n WhatsApp van die narkotiseur om te sê alles gaan nog goed. Sy het twee keer tydens die operasie vir my boodskappe gestuur om my gerus te stel”.

Daniël het wonderbaarlik oorleef na sowat 18 dae in die intensiewe sorgeenheid van Unitas Hospitaal.

“As ek terugkyk voel dit soos ’n droom. Wat ek wel kan onthou is die hoeveelheid mense wat omgegee het en steeds omgee. Ons het boodskappe vanoor die hele wêreld ontvang en baie mense het vir ons gebid. Dit het ons gedra in ’n donker tyd. Ons is dankbaar en weet, die feit dat Daniël leef is ’n wonderwerk. God was ons genadig.

“Ons gesin kan ook nie genoeg dankie sê vir die dokters en personeel wat Daniël in die hospitaal behandel het nie. Hulle het ’n ongelooflike passie vir wat hulle doen en ten spyte van lang ure bly hulle altyd professioneel en behulpsaam. Ek het geweldig respek vir hulle. ’n Spesiale dankie aan dr Stander vir haar ongelooflike omgee en toewyding. Ons sal dit altyd onthou,” sê Jeanette.

Daniël behoort weer volgende kwartaal (slegs twee maande na die traumatiese gebeurtenis) terug te gaan skool toe om sy graad 4-jaar met nuwe lewenslus te voltooi.

“Wonderwerke gebeur steeds, ons moet dit net raaksien”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.