WRSA vereer studente

Links v.l.n.r.: Peet Koen (SA Game Breeders, Sebastian Schaepe (tweedejaarstudent met ʼn gemiddeld van 87%), Armand du Preez (tweedejaarstudent), Danie Hefer (voorsitter WRSA Ellisras Bedryfskamer) en voor: Nadia van Staden (dosent: Natuurbestuur), Dalyn Stoltz (eerstejaarstudent), Tania Kaiser (SA Game Breeders) en Daniëlle Nel (tweedejaarstudent), Phillip Swart (tweedejaarstudent) en Karin Hefer (sekretaresse WRSA Ellisras Bedryfskamer)

LEPHALALE — Die WRSA (Wildlife Ranching South Africa) het Donderdag 16 November by die Mogolklub vergader onder voorsitterskap van Danie Hefer.
Verskeie items was op die agenda onder andere die erkenning wat aan top- natuurbestuurstudente gegee is. Dié studente doen hulle kursus by die Lephalale TVET-kollege onder leiding van dosent Nadia van Staden.
Peet Koen van SA Game Breeders het gesê die toekoms lê in die jeug en daarom moet studente wat presteer vereer word.
Phillip Swart, een van die topstudente, het die WRSA bedank vir hulle ondersteuning en dat hulle beurse toeken.
Nadia het die WRSA op haar beurt namens die TVET-kollege bedank. Sy beskryf die WRSA se ondersteuning as ʼn inspirasie vir die jongmense in die wildbedryf. “Ons het vir 11 jaar die kontrak met Centurion Akademie gehad om die studente op te lei, maar aangesien ʼn staatsinstelling soos die TVET-kollege nie namens ʼn privaatinstansie opleiding kan aanbied nie, sal die kursus voortaan nie meer hier aangebied kan word nie”. Sy het gesê dat die meeste studente reeds uitgeplaas is na Klerksdorp en ander is geregistreer by Centurion en sy het haar vertroue uitgespreek dat dit met hulle goed sal gaan. Nadia het dit verder benadruk dat daar ʼn besliste behoefte op wildplase bestaan vir jongmense wat hierdie kursus doen. “Heelwat eienaars van wildplase kontak ons om van hierdie studente in te neem en daar is nie genoeg studente vir die aanvraag nie,” sê sy. Dit is dus duidelik dat daar ʼn geleentheid en behoefte is vir werk in hierdie studieveld.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.