Markdag — Kort vóór Lank-wenner aangewys

LEPHALALE — Sandy Troskie, wenner van Ellisras Bou- en Hardeware, BP Lephalale en Mogol Pos se Kort vóór Lank-skryfkompetisie, is Vrydag 30 November om 12:00 tydens die Markdag by Ellisras Bou- en Hardeware se perseel aangekondig.

V.l.n.r.: Leoni Kruger van Mogol Pos, Anita van Biljon van BP Lephalale, die wenner Sandy Troskie en Gert van Biljon van Ellisras Bou- en Hardeware

Mogol Pos het almal wat vir die kompetisie ingeskryf het uitgenooi om die geleentheid by te woon. Die inskrywings was van hoë gehalte en die beoordelaars moes mooi dink om die drie beste inskrywings te kies.

Sandy se verhaal is uiteindelik as wenner gekies omdat die leser hom/haarself kon inleef in haar verhaal en as’t ware kon “voel” hoe sy ʼn plaasaanval beleef het.

Amanda Basson is as naaswenner aangewys met haar verhaal: “Kort voor lank val die reën”. Haar woordspeling met die naam van die kompetisie en die reën waarvoor alle Bosvelders wag, het van haar ʼn waardige naaswenner gemaak.

Janice du Plessis, voorheen ʼn leerder aan Hoërskool Ellisras wat verlede jaar haar graad in Joernalistiek aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het, het in die derde plek geëindig. Haar sus, Clarise, het haar kontantprys namens haar ontvang omdat Janice Vrydag uitstedig was.

By die Markdag kon besoekers kon na hartelus tussen die stalletjies rondloop en iets vir die kerskous koop.

Die verskeidenheid wat beskikbaar was het verseker dat elke besoeker met iets huis toe is. Van klere tot potte vir jou plante, boeke, hekel- en breiwerk, groente en vrugte, beskuit en konfyt.

Daar was iets vir elke smaak aangebied!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.