ʼn Blik op bemarking

Elkeen het ʼn mening oor wat in die advertensiewese werk en wat nie, maar volgens Mike Follet sal dit nuttiger wees om navorsing daaroor te verduidelik.

Follet en sy maatskappy, Lumen Research, het op ʼn onlangse mediawerkswinkel gepraat oor hoe mense advertensies verstaan met behulp van oogopsporingstegnologie. Met ander woorde hulle gebruik tegnologie om die werklike aandag wat mense aan advertensies gee te meet eerder as wat mense dink hulle sien! Follet sê voorts dat mense lieg nie oor wat hulle sien of nie sien nie, dit is net dat hulle nie omgee nie.

Hy het ʼn paar feite voorgehou:

Mense sal advertensies om verskillende redes raaksien … of ignoreer.

Die gemiddelde advertensie in die gedrukte media sal deur 76% mense raakgesien word indien dit goed ontwerp is. Die gemiddelde advertensie op ’n digitale skerm bereik ongeveer 18% mense. Gemiddeld word daar vir 1,2 sekondes na digitale advertensies gekyk teenoor die 2,2 sekondes vir gedrukte media. Slegs 5% van die digitale advertensies word vir meer as ’n sekonde na gekyk, terwyl 41% van die gedrukte advertensies vir meer as ’n sekonde na gekyk word. ʼn Beduidende verskil.

Gedrukte advertensies kry veel meer aandag as digitale advertensies en is ʼn effektiewer manier om mense te kry om dinge te onthou – “Die meeste mense weet nie hoe om digitale bemarking effektief te doen nie, die meeste daarvan is rommel,” het Follett gesê.

Sy belangrikste boodskap was dat, net omdat mense jou advertensie KAN sien, beteken dit dat hulle dit WIL sien nie. Selektiewe aandag is slegs op sekere elemente ingestel wat kategorie, kleur en ontwerp aanbetref. Mense besoek aanlyn-webwerwe meesal vir nuus en advertensies is sekondêr. Goed ontwerpte advertensies is dus van kardinale belang, aangesien mense in die eerste helfte van ʼn sekonde moet weet watter handelsmerk geadverteer word. Kreatiwiteit is baie belangrik en advertensies moet mense se aandag “verdien”.

Wees dus kreatief, op die regte platform, voor die regte gehoor en bemark op ʼn gereelde basis.

Mogol Pos is tot u diens en ontwerp u advertensie gratis. Kontak Ria gerus by 084 206 8492 of ria@mogolpos.co.za vir kundige bemarkingadvies en –pakkette.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.