Vir vol-fiemies-ouers …

LEPHALALE — Olka-Bolka Kleuterland het amptelik gedurende Mei 2017 by die Hervormde Kerk Onverwacht geopen met Ullanda Coetzee en Chanté Pretorius as eienaars.
Dié passievolle dames het die geleentheid raakgesien vir ʼn kleuterskool wat voldoen aan hoë standaarde waarin kleiner groepies kleuters individuele versorging, opvoeding en aandag kan kry wat ontwikkeling en sosiale interaksie bevorder soos wat van ʼn goeie kleuterskool verwag word.
Omdat die kleuterskool vir klein groepe kleuters voorsiening maak, kry die personeel die geleentheid om ʼn goeie verhouding met die kind sowel as die ouers te bou. Hulle mening is dat kinders ouers se kosbaarste “besitting” is en wil graag vir hulle die nodige gemoedsrus bied dat hulle kinders veilig is. Dit is vir Ullanda en Chanté belangrik om na die emosionele, psigiese en fisiese behoefte van die kleuters om te sien waar Christelike waardes deurgaans toegepas word.
Wat in die kleuterskool se guns tel is dat al die onderwysers oor die nodige kennis, kundigheid en passie beskik om ʼn daadwerklike verskil te maak in al die bogenoemde fasette van die kleuters se lewens. ʼn Kleuterskool ideaal vir die vol-fiemies-ouers!
Die ouderdom van kleuters by Olka-Bolka Kleuterland is van nege maande tot vyf jaar oud. Hulle verskaf in die oggende ontbyt en Kinderkinetika sal van volgende jaar af outomaties by die kurrikulum ingesluit word. Die skool is Maandae tot Vrydae oop van 07:00 tot 13:00 en sluit gedurende vakansies. Registrasies vir 2018 is nog oop en sluit 30 November 2017.
Kontak die skool by 074 663 3196 of 079 898 1316 vir enige verdere inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.