AW is tops — Windhoek Lager Internasionale Pare

LEPHALALE — Die Windhoek Internasionale Paregholfkampioen-skappe vir amateurs, wat in 2016 ontstaan het, stel deelnemende lande in staat om kwalifiserende geleenthede te hou waar klubspelers geïdentifiseer word om hulle land jaarliks by die Wêreldfinale – die grootse gholftoernooi vir amateurs – te verteenwoordig.

AW Besseling het gekwalifiseer om in Windhoek, Namibië, aan die gholfkampioenskappe deel te neem

Om deel te neem moet jy by jou klub kwalifiseer om deur te dring na die streekskompetisie. Een van dié kwalifiserende rondes is op 20 Januarie 2018 by Mogolklub se gholfbaan gehou.

Die eer het AW Besseling en Riaan Nel, beide lede van Mogol gholfklub, as parespel-spelers te beurt geval en hulle het aan ʼn kompetisie by Redding in Alberton deelgeneem, maar ongelukkig uitgeval. AW het egter as individuele speler gekwalifiseer en hy het Saterdag 2 Junie tydens die Africa Jacket Finale te Serengeti as topspeler in die C-divisie uit die stryd getree. Dit beteken hy gaan Suid-Afrika vanjaar vanaf 20-24 Junie in Windhoek, Namibië, teen sewe ander lande verteenwoordig. Indien AW daar sukses het, staan hy ʼn kans om Suid-Afrika by die Wêredfinale in Portugal te verteenwoordig!

Volgens AW is dit ʼn groot eer wat hom te beurt geval het en hy sien uit na die komende toernooi en hoop om Suid-Afrika se naam hoog te hou! Mogolklub wens hom sukses toe.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.