Gemengde welslae vir Mogolrugby

LEPHALALE — Mogol se eerste rugbyspan het Saterdag 21 April koning gekraai in hulle ligawedstryd teen Loskop se eerste span en afrigters Freddie Welman en Lloyd Seleka sê die span het weer “soos in die ou dae” gespeel.

Volgens Welman en Seleka het hulle spel – van lynstane tot verdediging – honderd persent in plek geval en hulle skrumtegniek het Loskop van die eerste minuut af oordonder.

Albert Schoeman het binne die eerste 15 minute twee drieë gedruk en later in die wedstryd nog een. Corman Vos het twee drieë gedruk en Christaan Ras en Armand Davies het elkeen een drie gedruk. Bronwin Craill het vier van Mogol se drieë verdoel en een strafskop tussen die pale deur gestuur. Goeie duikslae en uitstekende verdediging het gemaak dat Loskop nie een drie kon druk nie en Mogol wen 46–3.

Mogol se tweede span was egter Vrydag 20 April nie so gelukkig in hulle wedstryd teen Northam nie. Hulle verloor met ʼn telling van 40-7.

Volgens die afrigters het die tweedes tot op die laaste minuut aanhou probeer om punte aan te teken, maar die feit dat baie spelers uit posisie moes speel het ook daartoe bygedra dat hulle gesukkel het. “Die tweede span is ontnugter en gaan definitief hulle sokkies optrek. Daar is baie talent in die span en hulle gaan die volgende drie weke baie hard werk om die basiese foute en dissipline reg te stel,” sê Welman.

Die drie is gedruk deur Robert Molanguane en is verdoel deur Kabelo Ndoweni.

Die spanne en afrigters bedank elke ondersteuner wat beide wedstryde ondersteun het en ʼn spesiale dankie aan die borge.

Die gelukkige trekking is behartig deur Pierre Malherbe, voorsitter van Mogol Rugbyklub.

Die klub het nog ʼn hele paar behoeftes vir 2018 waaronder wedstrydballe, nuwe opwarmingshemde en brandstofuitgawes. Kontantdonasies sal waardeer word.

Enigiemand wat ʼn bydrae wil maak kan vir Pierre Malherbe skakel by 082 808 4772.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.