Gholfdag reuse sukses

LEPHALALE – Laerskool Ellisras het Saterdag, 18 Augustus, hul jaarlikse gholfdag met groot sukses aangebied. Alle fondse wat ingesamel was is ten bate van skoolfonds en die opgradering van die skoolterrein.

Adriaan Joubert (heel links) saam met die wenners en Carel Lee (heel regs)

Tydens ʼn prestige prysuitdelingsfunksie het Adriaan Joubert, skoolhoof van Hoërskool Ellisras, as aankondiger opgetree asook die prysuitdeling waargeneem en hom uitstekend van sy taak gekwyt.

Waarnemende skoolhoof van Laerskool Ellisras, Carel Lee, het van die geleentheid gebruik gemaak om die o. 16-rugbyspan van Hoërskool Ellisras geluk te wens met hul uitstekende vertoning Saterdag toe hulle Hoërskool Piet Retief in die stof laat byt het met die Virseker-beker. Hy het ook die borge, deelnemers, Mogolklub en die reëlingskomitee bedank wat gehelp het om van dié semi-winderige-somersdag ʼn groot sukses te maak. Panasonic was die hoofborg wat ʼn groot bedrag in kontant vir die skool geskenk het wat Carel as “van onskatbare waarde” bestempel het.

Verskeie pryse is gewen in verskillende kompetisies. Die “chipping”-kompetisie is gewen deur CJ de Swardt – ʼn handige R1 000 koopbewys van Pick n Pay Familie Supermark in die Lephalale Square. Die rugbypunteraai tussen die Springbokke en Argentinië is gewen deur Moses Grapies en Jannie Espach. Henry Pretorius het die pennetjieraai gewen.

Naaste aan die penne was Hanru Booysen, Ouentin Greylingh, A Galloway en Gerhard Pansegrouw. Hanru Booysen en Hennie Pienaar het onderskeidelik op putjies 9 en 18 die langste dryfhoue gespeel en Graig Wihahn en Tienie van Rensburg het die langste op die baan deurgebring.

Francois Campher en Jannie Espach het in die eerste plek klaargemaak, gevolg deur Gerhard Pepler en A Scheepers in die tweede plek en Marcell en Jarred Grovers in die derde plek.

Na afloop van die prysuitdeling is daar heerlik gesmul en ʼn veiling is waargeneem deur Gert du Plessis, die oudste Rassie teenwoordig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.