Hanlie is Sportster …

Ria Wells
LEPHALALE — Mogolklub se Sportsterre is Donderdagaand, 9 Maart tydens ‘n spoggeleentheid vereer vir prestasies wat gedurende 2016 behaal is en Hanlie van Zyl ontvang die Ben Alberts-trofee vir Sportster van die Jaar.
Dr Neels Gerber, algemene bestuurder van Mogolklub het die prysuitdeling waargeneem. Hy het gesê dat die klub graag spesiale melding wil maak van sportaktiwiteite wat op Mogolklub se terrein aangebied word soos die parkrun en die Action Sportnette wat steeds beskikbaar is vir diegene wat sou belangstel om daarvan gebruik te maak. Ses “parkrunners” het hul 100ste parkrun in 2016 voltooi. Nog ‘n spesiale toekenning wat uitgedeel was, is vir die Sanlam Kanker Uitdaagreeks. Mogol Gholfklub het R62 395.36 vir KANSA ingevorder in 2016, wat hulle derde op die SA-ranglys plaas. Nancy van Staden, gemeenskapsmobiliseerder vir KANSA Lephalale, het ‘n sertifikaat aan Jan Beyer, Mogolklub se gholfbestuurder oorhandig.
Brons, silwer en goue medaljes is oorhandig aan sportmanne en –vroue wat in 2016 prestasies behaal het. Foto’s is op Mogol Pos se Facebookbladsy.
Trofeëwenners is as volg:
Matimba Kragstasie-trofee vir Administrateur van die Jaar het aan die rugbyklub se sekretaresse, Recha Wellman gegaan. ‘n Spesiale toekenning is aan Martie Liebenberg oorhandig vir haar besondere bydrae tot die rolbalklub vir die afgelope jare.
Medupi Kragstasietrofee vir Beampte van die Jaar is toegeken aan Elize Grobler van die stoeiklub.
Lephalale Munisipaliteit-trofee vir Sport-subseksie van die Jaar het gegaan aan die Perdryklub en die toekenning is deur Rudi van der Neut in ontvangs geneem.
Molalatau Lodge-trofee vir Junior Sportvrou van die Jaar is oorhandig aan Daney Potgieter vir haar prestasies in ringbal.
Machauka Lodge-trofee vir Junior Sportman van die Jaar is toegeken aan Dario Geyser vir sy uitsonderlike swemprestasies. ‘n Spesiale toekenning is aan Loutjie Steenekamp oorhandig vir sy atletiekprestasies.
Mogol Pos-trofee vir Senior Sportvrou van die Jaar is toegeken aan Juritza Kruger as lid van die SA Gemengde Gevegskunsspan wat aan die USA Wêreldkampioenskappe deelgeneem het.
Domitor Drukkers-trofee vir Senior Sportman van die Jaar het gegaan aan Werdie van Staden van die boogskutafdeling.
Elite Mica-trofee vir Veterane Sportvrou van die Jaar het gegaan aan Hanlie van Zyl (Gevegskuns) en ‘n spesiale toekenning aan Elme Young vir atletiek.
Lewies en Kitching Ing.-trofee vir Veterane Sportman van die Jaar is aan Thys Smith toegeken (Gevegskuns).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.