Hoogtepunt-jaar vir Van Stadens

LEPHALALE – Die Suid-Afrikaanse ABO-toernooi (Afrika Boogskiet Organisasie) het op 18 en 19 November te Magnum Archery Pretoria plaasgevind en Hennie en Werdie van Staden van Mogol Nyala Boogklub was dáár!
Volgens Hennie is die toernooi goed bygewoon en verteenwoordig deur al die provinsies met ongeveer 350 skuts wat deelgeneem het. Werdie van Staden is in die MBO (Male Bow Hunter Open) afstandskat tot 50 jaarts gekroon as SA kampioen. Hy stap ook met ʼn goue medalje weg. Werdie is ook gekroon as die Triple Crown-wenner van die Jaar, asook die Grand Slam-wenner van die Jaar.
Hennie het in die MSA (Male Senior Release) afstandskat tot 45 jaarts as naaswenner uit die stryd getree met die silwer medalje in die sakkie. Hy stap ook weg as Triple Crown-wenner vir die Jaar.
In die spankompetisie het die gedugte Team Hoyt-span van Magnum Archery, bestaande uit Hennie, Werdie, asook ʼn ander pa en seun-span van Hartbeespoortdam, Wynand en Tiaan de Wit, vir die tweede agtereenvolgende jaar met die goue medalje weggestap. Dié viermanskap skiet al vir die afgelope twee jaar in spanverband saam.
Hierdie kompetisie het die jaar afgesluit.
Gedurende die jaar het Werdie as volg presteer: in die Field SA’s tot 80 jaarts – silwer, Bowhunter SA’s tot 60 jaarts skatting – goud en ABO SA’s – goud en op internasionale vlak in Windhoek 80 jaarts oor drie dae vir die Springbokspan – silwer
Hennie presteer as volg: Field SA’s tot 80 jaarts – silwer, ABO SA’s – silwer en op internasionale vlak in Windhoek vir die Springbokspan – goud.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.