Mogol kán rol!

LEPHALALE — Twee van Mogol rolbalklub se spanne het die afgelope naweek, 25 en 26 Augustus, teen gedugte spelers te Mokopane te staan gekom. Altesaam 28 spanne met vier spelers in elke span het deelgeneem, ʼn totaal van 112 spelers.

Dorette, Stompie, Linton en Ella glimlag breed op Potties se rolbalbaan

Teenstanders van oraloor het deelgeneem waaronder SA-spelers en provinsiale spelers van verskeie klubs van Pretoria, Vanderbiljpark, Tzaneen, Louis Trichardt, Polokwane, Potchefstroom, ens. Dié dag is ʼn geborgde rolbaldag wat jaarliks deur Potties (Mokopane) aangebied word.

Vier van Mogolklub se spelers het die naweek uitgeblink en ʼn algehele tweede plek uit die 28 spanne behaal.

Die span van Linton Burger met spanlede Ella Burger, Stompie Venter en Dorette Wells het rede gehad om breed te glimlag, maar volgens hulle het dit deurentyd goeie fokus, spanwerk en volharding gekos om dié prestasie te behaal.

Linton sê Potties se rolbalklub het die spelers behoorlik op die hande gedra met gasvryheid en kos uit die boonste rakke. Hy sê daar het soos altyd tydens sulke groot byeenkomste ʼn uitstekende sportmangees geheers en hulle sien uit na volgende jaar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.