Professionele gholf wink vir Pepler

LEPHALALE — Gerhard Pepler is die huidige klubkampioen van Mogol gholfklub. Dié begaafde jong man is ook Saterdagaand aangewys as Mogolgholfklub se Speler van die Jaar vir 2018. Hy het die bruto putjiespel, Mogol Ope asook die Bielie van die Bosveld-toernooi gewen.

Gerhard by al die trofeë wat hy Saterdagaand 1 Desember tydens die Mogol-gholfklub se jaareindfunksie ontvang het

Gerhard het in verskeie IGT-toernooie gespeel waar jong, voornemende professionele spelers hulself slyp vir die bekende Sonskyntoernooi. Hy het onder andere ʼn tweede plek behaal in die Irene-toernooi waar hy in die laaste ronde skouers geskuur het met ʼn aantal professionele spelers. Deur dié prestasie is Gerhard genooi na ʼn “Big Easy”-toernooi te Wingate Park. Hy was die enigste amateur wat die afsny gemaak en ʼn 12de plek behaal het.

Hy het onlangs deelgeneem in die eerste fase van die kwalifiseringsvlak om professioneel te speel te Makouvlei waar hy die top sestien moes haal. Gerhard het ʼn fantastiese derde plek behaal nadat hy na dag twee en drie die voorloper was. Gedurende Maart 2019 gaan Gerhard aan fase twee deelneem.

Gerhard het op 12-jarige ouderdom begin gholf speel en word op 13 Desember 19 jaar oud. Sy liefde vir die sport, deursettingsvermoë, harde werk en goeie ondersteuningsnetwerk van sy ouers, Gert en Claudia, se kant, familie en gholfvriende het gehelp dat dié jong man beloof om groot hoogtes in professionele gholfkringe te behaal.

Mogol Pos sal lesers in die toekoms op hoogte hou van Gerhard se gholfloopbaan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.