Rassie Rhino-atletiek

LEPHALALE — Hoërskool Ellisras het Donderdag 20 September ’n nuwe tradisie begin, naamlik Rassie Rhino-atletiek. Dit is gehou in die vorm van ’n middag/aand-atletiekbyeenkoms.

Dries du Preez – seunatleet van die dag

Dié byeenkoms het bestaan uit ongewone items soos 60 m, 150 m, 300 m, 600 m, 100 m asook 60 m en 200 m hekkies.

Top-atlete van omliggende skole, sowel as die atlete van Hoërskool Tom Naude van Polokwane, was ook uitgenooi.

Volgens die deelnemers was die geesdrif aansteeklik, veral met die kampioen van kampioene-item. Al die baanwenners het teen mekaar deelgeneem en die toeskouers het almal aangemoedig.

Verskeie toekennings is gemaak en atlete kon die trofeë huis toe neem.

Lebogang Molebotsi (o. 13) word aangewys as die beste dogter hekkie-atleet vir haar vertoning in die 200 m hekkies; Jan du Plessis (o. 15) word aangewys as die beste seuns hekkie-atleet; Christel van der Merwe (o. 14) word aangewys as die beste dogter in verspring en Neil Smit (o. 13) is die beste seun in diskus; Elanè Erasmus (o. 13) is die beste dogter in die baanitems (150 m) en Ewald Botha (o. 13) die beste seun in baanitems (150 m).

Lebogang Molebotsi en Dries du Preez stap weg as dogter- en seunkampioen van die kampioene en die Atleet van die Dag is Nachelle Beetge (dogters) en Eduaniq Harmse (seun).

Skoolhoof Adriaan Joubert het vir groot pret gesorg toe hy van sy baadjie, das en skoene ontslae raak en vir die onderwyserspan hardloop in die aflos na die wenpaal.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.