Vir ʼn goeie saak …

LEPHALALE — Die Bravo Jeuggholfdag het Saterdag 3 Maart onder leiding van Johann Young en sy span by Mogolklub se bane plaasgevind.

Agter v.l.n.r.: Petro van der Walt, Hannele Christie, Johann Young, George Albertyn, W Smith, Daan Eloff, Herman Botha en voor: Elmé Young en Corlé Gerber

Hy het Bravo se rol in die gemeenskap verduidelik en gesê omdat sielkundige en maatskaplike dienste nie meer in skole aangebied word nie, Bravo daardie leemte vul. Kinders wat trauma ondervind word effektief ondersteun deur middel van terapie en bystand deur opgeleide sielkundige en maatskaplike werkers. Die drie direkteure van Bravo Jeug is Johann Young, Esmie van Greunen en Petro van der Walt (terapeut en maatskaplike werker). Die twee nuwelinge in die span is Hannele Christie (opvoedkundige sielkundige) en Corlé Gerber (maatskaplike werker). Bravo doen ook vir die afgelope drie jaar leierskapontwikkeling onder kinders.

Johann doen ʼn beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by dié belangrike organisasie en spreek ook sy dank uit teenoor elkeen wat hierdie goeie saak ondersteun.

Onder die 56 spelers wat deelgeneem het was Vincent Neluembeni en JH de Meyer onderskeidelik op putjie 11 en 8 die naaste aan die penne. JH de Meyer het die langste dryfhou geslaan. 

Die wenners van die vierbalalliansie was in die eerste plek W Smith, G Albertyn, D Eloff en H Botha. In die tweede plek was Riaan Nel, Willie Loots, Martin Nel en Willem Oosthuysen en in die derde plek was Juan van Vuuren, Nadea van Vuuren, Ben Bothes en Eddie Jacobs. Tommy Richards is met die “chipping”-kompetisie beloon met ʼn Weber-braaier.

Gert du Plessis het ʼn veiling waargeneem waaronder interessante items was soos ʼn familiefotosessie, biltongkoek, spabehandelings, wildkarkasse, ʼn skildery asook ʼn Tailormade gholfsak.

Johann het die spelers wat deelgeneem het asook die borge van al die pryse van harte bedank vir hul goeie gesindheid teenoor Bravo Jeug.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.